Wag was beslis die moeite werd vir Plante kan praat

  • 0

Plante kan praat
Jeanne Goosen
Uitgewer:
Kwela-uitgewers
ISBN: 9780795703003
Prys: R140.25
 


 

In Willem de Vries, boekeredakteur van Die Burger, se onderhoud met Jeanne Goosen oor hoe sy as ­skrywer na die wêreld kyk, antwoord sy: “Die wêreld is soms maar ’n bietjie van ’n snaakse plek. Was maar altyd. Wat ’n sterk tema vir my is, is dat mense wat op die oog af swaksinnig lyk of dom is, nie goed vaar op skool nie, nie ­akademies is nie, beskou word as gestremd, terwyl daar onder daai tipes wat geen of baie min aanmoediging kry, dikwels baie verrassings is.”

Dié opmerking van haar eie skrywersblik op die wêreld is ’n goeie opsomming van nie net Jeanne Goosen se oeuvre nie, maar ook haar jongste bundel kortverhale, Plante kan praat. Soos in haar vorige prosawerke, en dan spesifiek die kortverhaalboek Gelyke kans, bied Goosen ’n blik op die gemarginaliseerdes en die karikature. Sy skryf sonder skroom – in ’n aangrypend eenvoudige en gestroopte taal – oor seks en God en die afstootlike. En natuurlik skryf sy oor die wêrelde wat bestaan binne ons werklikheid; wat harder praat as die mens en waarvan ons meestal salig van onbewus is.

Dit is met haar skerp fokus op die onderbeligte kantlyne van die samelewing dat Goosen se karakters in bykans elke verhaal die leser verras. In dié bundel word die leser genadeloos blootgestel aan die donker wêrelde van wyduiteenlopende karakters. In die aanvangsverhaal, “Fucked for life” (17), ontmoet die leser Andrea en Marna wat zol rook en praat oor Marna se obsessie met die hoogheilige literator, en dan masturbeer. Die boggelrug Lubbert Das (28) voer die leser mee na ’n magiese wêreld; jy ontmoet Bjork, die “swaksinnige, die idioot” (87) en word ingesleep by die gesprek tussen die dooies in “Famous last words” (99). Dit was in sigself ’n aangename verrassing vir my om weer die onverskrokke Jean met haar mes in “Durbs” se strate raak te loop in “Hulle noem my Jean” (116). Spokie Snygans (57), wat daarvan droom om ’n dirigent te word en met sy klassieke musiek wil ontsnap uit sy haglike huis in Parow, laat die leser nie onaangeraak nie. Spokie Snygans is waarskynlik een van daardie karakters wat nog lank sal bly leef in die Afrikaanse kortverhaalkuns. Dit is ’n verhaal waarvan die karakter se weerloosheid en drang om meer te wees, asook die onthutsende slottoneel, die leser in die maag tref.

Verder is daar die “vol airs” Ben Prins (109) wat met “pure laventel en tierlantyntjies en Oxford-aksent” ’n vreemde voete-fetisj het. Nog ’n karakter wat die verbeelding aangryp en die leser verras, is “Gladys die sex change” in “Bysiende” (133)

Dit is egter nie net hierdie eiesoortige en kleurvolle karakters wat hard en duidelik stem kry nie. Die bundel wemel van plante, diere en selfs klippe wat kan praat. In “Lemoene” (19) praat die klok met “’n plattelandse stem”. Dit is in dié verhaal dat Natie Barnard die behoeftes van die lemoenboom, wat oordadig gelukkig in die middel van die tuin vrugte dra, verstaan, maar doof is vir sy verbitterde vrou se verlangens. Lubbert Das, die boggelrug-tuinier wat na sy pa se dood vir die hertogin begin werk, kyk na sy handewerk in die tuin. “Aanstons sal die plantjies se wortels diep in die grond in boor, dit sal knoppe maak en oplaas blomme,” weet Lubbert oor die lewe van plante. “Die plante sal op hulle tone staan, strek in in die middagson die meesteres groet” (35). Anders as in “Lemoene” het niemand ag geslaan op die honger van die verdorde lemoenboom in “Lubbert Das” nie en moes Lubbert die boom vervang met ’n nuwe boom.

Die swaksinnige Bjork se onvermoë om sy emosies te verwoord in “Begeerte” (87), laat hom hom wend tot die taal van voëls. Hy kan nie in mensetaal reaksie uitlok nie, maar wanneer hy die “sanggeluide van voëls” naboots (88), het hy “die jong vrou met die donker oë en die sluier oneindig plesier verskaf” (88).

In die slotverhaal, “Nog ’n dag” (147), wat handel oor die skrywer se daaglikse roetines, gesels die skrywer met ’n “sierlike swart eend” wat uitbundig in die rivier swem en vir haar skree: “Dis mos hoe dit moet wees” (148). Hierop reageer die skrywer: “Ek stem!” (148).

Die taal van plant en dier word klokhelder en oorweldigend in die bundeltitel-verhaal, “Plante kan praat” (106). Johanna van Huyssteen wil in hierdie verhaal ’n gedig maak met die sin “Plante kan praat”, nadat sy in haar tuin gesit het. Hier het sy onder meer ’n aronskelk hoor “Jis!, jis!” sê (106); ’n vy het gemor oor die “aardlinge se gifstrooiery” (107). Die klag teen die mens se vernielsug en verwaarlosing van die omgewing word in hierdie verhaal op die spits gedryf. Dit is nie net die vy wat die vrou aanspreek nie, maar spinasie wat kla oor slakke en ’n klomp suurlemoene wie se “maters” uitgemoor word. Waar is “die skoenlappers, die sprinkane, die krieke en die verkleurmannetjies, om maar net ’n paar te noem?” (107) wil dié vrugte weet. Die besige omslagontwerp suggereer reeds hierdie milde taal van die plantewêreld.

Dit is dieselfde geheime wêreld van dier, plant en objek waar kreatiwiteit rank uit chaos, en beweging groei tot transformasie, wat hom openbaar aan Gladys die sex-change in “Bysiende” (133) as sy met haar hond, Darling, in die straat stap en oor ’n klip struikel.  Gladys lê langs die klip en merk op hoedat die klip transformeer. Die “klip word ’n akkedis, die akkedis ’n vlermuis en die vlermuis ’n voël. Die voël sprei sy vlerke en vlieg. Hoog op, hoog op tot by die son, waar dit om en om en al om draai” (135).

Soos Johanna van Huyssteen besef Gladys wat dit is om ’n kunstenaar te wees en dié wêreld van onwaarskynlikhede raak te sien. “Ek is ’n artist en kan sing,” sê Gladys. “En vandag het my Heiland my iets wysgemaak: bysiende is om bý te sien. En wat ek vandag gesien het, sal vir niemand anders ooit beskore wees nie.”

’n Verrassende element in Plante kan praat is die sterk religieuse tema. Marna in “Fucked for life” sê byvoorbeeld: “Maar ek het my bekeer, en as daar saligspreking is, kan ’n jakkals van streek verander” (15). Dié bekering word ten nouste verbind met haar verslawing aan ’n minnares, die hoogheilige literator, waaroor Andrea kras opmerk:  “As jy my vra, masturbeer sy met die agterkant van haar Bybel” (14).

So ook in “Lemoene” is geloof ’n sterk tema. As Natie Barnard se vrou hom uitsluit deur haar besoeke aan die Duitse kerk, is Natie jaloers op God. Uiteindelik pak Natie haar Duitse Bybel saam met die lemoene in die koffer as hy die pad vat.

Die religieuse tema word verder gevind in verhale soos “Wolwors” (46), “Straf” (120), waar die aardse pa se straf vergelyk word met God se straf, asook in “Nog ’n dag”, waar ’n Bybelversie in die skrywer se kop opdoem: “Gaan heen en sondig nie meer nie” (154). Dit is verder opvallend, en soms té oordrewe, hoedat “God!” deur verskeie karakters uitgeroep word. Enkele voorbeelde vind die leser op bladsye 18, 20, 48 en 53.

As die skrywer in “Nog ’n dag” opmerk dat sy skryf “omdat sy opgefok is” en daarom “gestremd” is, besef die leser dat sy haarself gelyk stel aan al die “gestremdes” en “malles” oor wie sy skryf. Dit is eers wanneer jy dinge van naby sien dat jy die wêreld waar plante ook praat, kan beleef.

Plante kan praat verskyn 15 jaar na Jeanne Goosen se vorige kortverhaalbundel. Die wag was ongetwyfeld die moeite werd. Dit is ’n bundel waarin die sterk-gekonstrueerde verhale tematies digverweefd bymekaar aansluit. ’n Moet op die boekrak van elke Goosen-aanhanger.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top