Waarom nog veg vir Afrikaans?

  • 10

Dit gaan my verstand te bowe dat so ’n uitlating deur Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir Onderwys geuiter is! Is dit uit blote onkunde, of is dit strategies daarop gemik om Afrikaans bloot as onbelangrik af te maak? Dit is ’n erge vorm van diskriminasie teenoor Afrikaanssprekendes, ’n skending van basiese menseregte en beslis ongrondwetlik! Verder reken hy as jy “op Afrikaanse onderrig aandring, kelder jy die kinders”.  Is hy bewus van die voordele van moedertaalonderrig en van die onnoembare skade vir kinders wat moedertaalonderrig ontsê word? Weet hy dat ’n kind wie se moedertaal goed vasgelê is, ’n tweede en derde taal vinnig bemeester? Die ideaal is tog dat ons as Suid-Afrikaners meertalig moet wees. Waarom dus een taal in almal se kele wil afdwing?

Dis geen geheim nie dat die skoolstelsel oor die afgelope jare in absolute chaos verval het. So, byvoorbeeld staan die lees- en skryfvaardighede van Suid-Afrikaanse graad 3- en 6-leerders, volgens “The Read shop – supporting Literacy today”, op ’n skamele 39%. Beteken dit dan nie dat daar ernstige fout is met die taalbeleid van die nasionale onderwysdepartement nie? Moet daar dan nie uit die foute van die verlede geleer word nie?  Bring moedertaalonderrig terug en bevorder leerderprestasie daardeur!  Ons wil dan juis leerders aanmoedig om besigheidskenners en wetenskaplikes te raak. Dit gaan mens se verstand te bowe dat die LUR kan dink dit sal sonder moedertaalonderrig moontlik wees.

Die mite dat Afrikaans aan ’n sekere “ras” behoort, wat die rede is dat daar teen Afrikaans gediskrimineer word, moet ontmasker word. Die Suid-Afrikaanse sensussyfers dui op 'n toename in die aantal eerstetaalsprekers van Afrikaans in al nege provinsies.  Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge dui aan dat 'n groeiende meerderheid “bruin” Afrikaanssprekendes is. Die LUR sal moet herbesin oor sy uitlating. Hy sal moet besef dat die verlede agter ons is en moet ophou om Afrikaans as ’n “rassis” te beskou.

Indien daar in belang van die leerders opgetree word, sal moedertaalonderrig bevorder word en nie teen Afrikaanssprekendes gediskrimineer word nie. Sulke uitlatings verdeel gemeenskappe en laat ’n wrang smaak in die mond. Politici is geneig om alles te wil politiseer wat nie noodwendig die landsburgers – én die land in die breë – se belange dien nie.

  • Merlyn van der Rheede, ATR Noordelike Projekbestuurder.

 

  • 10

Kommentaar

  • Dankie Merlyn, maar bo en behalwe wat jy sê, begaan Lesufi (Lord Milner die Tweede) tog sekerlik 'n feitedwaling, of het Stellenbosch se oormatige politiese korrektheid nou (heeltemal) van Afrikaans ontslae geraak, en is Pukke nou ewe skielik deur die bank Engels? Dit wys jou Lesufi weet glad nie waarvan hy praat nie.
    Mens sou sê soos hy aangaan dat die verlies van Afrikaans aan die reddelose hopeloos-verby-hoop-UV (sien onlangse geval van studente wat dosent aanval) 'n nekslag vir die akademiese voorbestaan van Afrikaans is (wat glad nie die geval is nie, en 'n lagwekkende voorstel uitmaak). Eweseer geld die argument in die geval van UP.
    'n Mens wat jou in Lesufi se gedagtewêreld bevind sal ook dan seker sê daar bestaan nie talle naskoolse privaat Afrikaanse tersiêre onderriginstansies nie? Vreemd nè?

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Jaaaa jong. Wigte en teenwigte ... die nasiebouprojek weeg swaarder as wetenskaplike navorsing wat die voordele van moedertaalonderrig bevestig.

  • As daar so blatant opgetree word deur 'n politieke amptenaar, moet dit tog sekerlik deur die res van die regerende party onderskryf word? Andersins, waarom swyg hulle?
    Die enigste afleiding is dat Afrikaans taboe is. Wat net kan lei tot eie geriewe en groter afskeiding, verdere polarisering en openlike konfrontasie! Miskien is dit waarop sekere mense binne dié geledere hoop?

  • Avatar
    E. Hartzenberg

    Hul beweeg na die nuwe wêreldorde v een taal, een godsdiens, een ras. Daarom begin die happe oral voorkom.

  • Ek wonder of 'n sekere taalbeleid vir skole wat afgedwing was in die '70's dalk iets hiermee te doen het?

  • As voorstander vir die behoud en uitbouing van Afrikaans bekommer dit my net dat al hoe meer bruinmense verkies om Engels te praat terwyl hulle duidelik eerstens Afrikaanssprekend was of is. Dié mense se steun vir Afrikaans is myns insiens onontbeerlik vir die taal se toekoms.

  • Avatar
    Pieter. Kroutz

    Panyaza Lesufi kan nie Afrikaans doodmaak nie. Die Afrikaanse sprekers kan dit doen deur net toe te kyk hoe die verengelsingsbeleid informeel toegepas word. Onthou die geskiedenis! Hier in De Aar leer die Xhosa-kinders Afrikaans met vreugde. Hulle se vir my Oom. Solank my mense in Leeu-gamka, Merweville en Kamieskroon woon, is ek tevrede. Lesufi was nog nooit in Leeu-gamka nie. Stuur hom na Nelspoort waar my vriend Roman woon. Moenie worry nie!

  • Avatar
    Spook Speurder

    Ons moet nog veg vir Afrikaans, want sonder ons is die wêreld 'n swakker en slegter plek. Ons het eienskappe ontwikkel wat niemand anders het nie, goeies en sterkes. Soos elke groepering van mense, onder die baie miljarde wat daagliks bestaan, verander en gebore word of sterf het ons 'n belangrike skeppingsdoel. Ons moet veg omrede ons nog nie klaar met ons werk is nie. Ja, ons kan tou opgooi, maar dan moet iemand anders dit optel, dan kom onnodige komplikasies en wie betaal boonop vir daai onnodigheid en vir die opgee?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top