Waaraan sou jy dink?

  • 0

By ’n verkeerslig, by die uitdraai na Kalksteenfontein, hardloop troppies klein seuntjies agter ’n sokkerbal aan. Die een klonkie skop die bal woer-woer hier tussen die motors in en met die grondvat, hier skuins voor my, spring ’n jongerige meisie met ’n baba aan die bors op en sy trap die bierkrat waarop sy gesit het met ’n spoed anderkant toe. Sy moet seker die oppasser wees. Sy gil in aanvaarde vlakte-Afrikaans vir hierdie woelige skuldige sokkerspeler om die bal te los, terwyl sy hom met die een hand tot op die sypaadjie teruggryp-gooi ... “Sta da oppi pyvemint!”
Sy stap voor my verby, tel die bal aan die oorkant van die besige straat op en stap terug. Sy lyk swanger én bemoerd. Die baba, steeds hangende aan die linkerbors, skuil so half onder ’n dun kombersie.

Dit was seker so om-en-by twee ure en ’n bietjie later, toe ek weer daar verbyry. Die seuntjies was weg, maar die babavoerder en die slapende suigeling het nog op die krat gesit. Met die gewag in die verkeer en ’n Polisievangwa wat sukkel om op die sypaadjie op te klim, kry ek toe genoeg kans om haar behoorlik raak te sien.

Sy sit net.

Haar oë is oop en sy staar na die stukkende teerblad voor haar. Daar is niks dáár nie, maar sy kyk.
Ek wonder hardop tussen my en die sitplekke: “Waaraan sou jy nou dink ...?”

Die dinkding kuier baie gereeld by my en alhoewel dit soms tot my en sekerlik van die mense rondom my se absolute frustrasie is, sal ek eerder daarmee voortgaan, as daarsonder.
“Mens moet nie te veel dink nie,” het ek al iemand hoor sê.

Dit bly egter moeiliker gedaan as gesê. Hoe langer ek in hierdie dorp bly, hoe meer sien ek mense, plekke en dinge raak om oor te dink en hoe meer gereeld voel ek genoodsaak, amper gedryf, om wel dieper as net die sigwaarde daarvan waar te neem.

Gisteroggend toe ek die sedan teen Tierberg af in die rigting van die treinspoor druk, ry ek vir die soveelste keer verby een van die bekende munisipale straatveërs in die dorp. ’n Reus van ’n mens wat die besem wat hy vashou eintlik klein laat lyk. Hy staan in die straat teen die middelmannetjie die blare en vee. Hy lyk diep ingedagte en steur hom nie eens aan die karre wat teen hom verbyvlieg nie. Hy kyk nie eens op nie.
Op ander dae sal jy hom in sy groot oranje oorpak in die parkeergebiede nader aan Voortrekkerweg doenig sien. In die somer, sit-staan hy in skadukolle onder munisipale boompies en ander kere, vee hy vroegoggend die blikke, bottels, stompies en kondome buite die vuil kroeë sê toe deure van die sypaadjie af. Hy doen dit elke dag.

Gepraat van elke dag. In die suide van die eens groot stad Bellville, staan ’n pakhuis met berge van bale suiker, wat verskeie rugbyvelde beslaan. Dis net suiker en bale en staalpale wat die dak ophou en nog suiker en bale, net waar jy kyk. So ver soos die oog wil sien, kan ek amper sê. Die pakhuis se soete inhoud staan net daar. Daar kom nie voorraad in nie en daar gaan tans ook nie voorraad uit nie. Die bestuurder van hierdie pakhuis se werk is om bedags, 08:00 tot 16:30, na die suiker te kyk.
Hy het nie rekenaar of ’n draadloos of ’n telefoon nie. Ek merk ook nie ’n koerant of ’n Huisgenoot of selfs ’n stuitige buitelandse prikkel-publikasie nie. Net ’n stoel en ’n wit plastiek tafel ... en hy.

Op dees aarde, wat maak hierdie mense en die honderde duisende soos hulle, bedags met hul denke? Meer nog, wat maak hulle met hul denke wanneer die son sak en die kamers stil raak. Ek het ’n redelike goeie idee wat die meisie gedoen het, maar wat van die ander twee? Bedink die groot oranjepakman die roete wat hy vandag gevee het en die aardigheid van sy straatfonds, of die klomp blare wat op die vreemdste tyd van die jaar afval, of die nuwe regstellende landsburgers wat met hul blink karre op sy skoonmaakgebied kom oorstaan? Of dalk, wat sy vrou more in sy kosblik gaan pak?

Waaraan sou ek en jy gedink het as die loopvlakke en rolle omgeruil was?

Indien ek die suikerman se dagtaak gehad het, sou ek tog die een of ander vorm van stimulasie en tydverdryf saamgebring het. Of dít, of ’n galgtou!
Al sou ek geweet het dat ek nie van die suiker mag gebruik nie, is die vraag: of die wete genoeg sou wees om my wel te keer? Sou ek nie tog die oorvalsels opgevee en in ’n tuisgemaakte ketelstoker tot kookpunt laat prut het nie ...?
Tussen die oënskynlike ledige potspel met die duiwel se oorkussing en die sloerpraat van ’n voltyds benewelde tong, sou my lewer en loopbaan hier as suikersakoppasser waarskynlik nie baie lank geduur het nie!

Hoe meer gereeld ek oor dinge wat my pla dink, hoe meer gereeld sien ek geen regverdiging of rede in hierdie lewe nie. Niemand weet waarom 'n paar ouens nie hoef te werk nie en ander nie wil nie. Waarom sommige van ons gelukkig is en sommige van ons verkies om nie te wees nie; waarom ons aan goeters dink wat ons nie eintlik behoort te skeel nie, maar desnieteenstaande tog doen ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top