Waar is die pret in Pretoria? Die plek het sy siel verloor.

  • 0

Yuri het gelyk wat Pretoria betref: die plek het sy siel verloor. Die plek was polsend, eetplekkies oral, van die middestad tot aan die buitewyke. As jy 12-uur die nag uit ’n fliek kom kon jy gaan koffie drink tot 2-uur die oggend op verskeie plekke, die een wat ek spesifiek onthou was daar naby die kunsgalery.

Die deurlope was veral lekker, vol oulike winkels en eetplekke. Ek onthou veral die twee Duitse boekwinkels (aartsvyande van mekaar), die een het plate ook verkoop. Daar was ’n Nederlandse boekwinkel op die plein en Van Schaiks in Kerkstraat was etenstye vol lesers. Uniewinkels se een ingang was in een van die deurlope. Die hele winkel was vol pype en as jy betaal word jou geld met ’n pyp iewers heen geblaas en jou kleingeld en strokie kom met dieselfde pyp terug.

Sunnyside se hoofstraat was dag en nag besig, lekker restourantjies en kafees. Om die hoek van die losieshuis waar ek gebly het was, langs die Pigalle-fliek, was ’n eetplekkie behartig deur ’n mooi Hollandse vrou waar ek gereeld ’n uitsmijter gaan eet het. Sunnyside en Arcadia se woonstelle was almal oop en toeganklik; ek en ’n pel het skilderye vir ’n skilder verkoop vakansietye en die woonstelblokke was ons weiveld, kan jy maar sê.

Verder af in die straat waar ek loseer het het ’n meisie met wie ek uitgegaan het gebly in ’n plek met die naam Kronendal en Sandra Prinsloo het ook daar gebly. Ek kon my vergaap aan haar, die hele Pretoria was tjok en blok vol met mooi meisies. Ek en ’n kollega het altyd voor werk by die een deurloop se ingang in Kerkstraat gestaan waar busse vol meisies afgelaai was. Baie het teruggeknik en geglimlag en ander het hulle bloediglik vererg maar ons het darem nooit ’n klap gekry nie (ook nooit gescore nie).

So kan ek aangaan maar, soos Yuri sê, niks is meer dieselfde nie. Sunnyside is ’n nes, daar waar die Pigalle was is dit vuil en vervalle. Die kampus is vol tralies, al die woonstelblokke is afgekamp. Jy kan nie daar ingaan as jy nie iemand daar ken nie. Die flieks is weg, die Librigebou is weg, als is weg.

Yuri sluit sy brief af met die stelling dat aas die naam nié Tshwane word nie kry die rassiste hulle sin. Waar kom hy daaraan? Die naamsverandering sal goed wees want Pretoria was ’n skoon stad, dit is dus as gevolg van die transformasie en niks met rasseverhoudinge te doen nie.

Jan Rap

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top