
Foto: Canva.com
Waar die aarde treur
Waar die aarde se trane
yskoud aan my voetsole lek,
wil ek myself op Everest
onder die hemel uitstrek;
reg onder die Melkweg
met my arms om die maan
in stille omhelsing
van ’n koel somersaand.
Ek wil die nag se skoonheid
en towerkrag beleef;
aanskou hoe sy die sterre
in haar kobaltkleed inweef;
terwyl die planete pirouetteer
en op die klanke van nagmusiek
om die aarde roteer;
om my siel aand na aand
van voor af te begroet
met die asemrowende skoonheid
van Aurora se gloed.
Daar wil ek vry wees
onder ’n vergulde sterrefleur
en vreesloos vergeet
van die wêreld se hartseer
en die aarde wat treur.


Kommentaar
Pragtig!
Puik Loretta
Besonders mooi!
Uitstekend
Pragtig!
Puik geskryf
Awesome!
Litnet; baie dankie vir die erkenning. Ek waardeer dit opreg.
Baie dankie liefste Driekie, Anze, Vica en elkeen wat saamgelees het. xx
Baie mooi gedig.
Ek wil ook soontoe ontsnap. Pragtig!
Jy verf pragtig met woorde!
Besonderse skryfwerf.