WA Hickey (1909–1989)

  • 0

Gebore en getoë

Willem (Will) Andries Hickey is op 8 Augustus 1909 op Volksrust gebore, die tweede oudste van ses kinders. Sy pa was verbonde aan die Departement van Paaie en sy ma ’n huisvrou.

Voordat hy skool toe is, het die gesin na Nylstroom (vandag Modimolle) verhuis, waar hy sy belangrikste vormingsjare en sy skooljare deurgebring het.

Tisha Steyn het in Beeld (26 Mei 1988) geskryf: “Will was van kleins af ’n ywerige leerling en het veral in Afrikaans uitgeblink, met ’n groot liefde vir die groot skrywers wie se werk hy al geken het toe hy nog baie jonk was. Hy het reeds op skool ’n besonderse skryftalent geopenbaar en sy opstelle is dikwels in die klaskamer voorgelees.

“Op ’n dag het C Louis Leipoldt die skool op Nylstroom as skooldokter besoek. Hier het hy die begaafde Will raakgesien en aangebied om hom in Pretoria aan huis te neem en te laat leer. Will moes sy ma se toestemming gaan vra, waarop sy geantwoord het: ‘Gaan sê vir die dokter ek gee nie my kinders weg nie.’”

Toe Will in standerd 8 (graad 10) was, het sy pa ’n koffieplantasie naby Beira in Mosambiek gekoop. Hy en die oudste seun, Thomas, het soontoe vertrek. Die onderneming was ’n mislukking en Will en sy ma moes uitspring om die pot aan die kook te help hou. Sy het naaldwerk gedoen en hy het ’n betrekking by die spoorweë aanvaar.

Van sy jeugjare af was hy lief vir die diere en die veld. As jongeling het hy dikwels gejag en langs kampvure diep in die Bosveld kennis gemaak met die “vriendelike roep van ’n kommandovoël, die geronk van ’n wildebeest en die gebrul van ’n leeu”. (Die Transvaler, 14 Julie 1969)

Verdere studie en werk

Tydens sy jare by die Spoorweë het Will aanhou skryf en dit was nie lank nie of sy eerste kortverhaal is in Die Huisgenoot opgeneem. Nog ’n stuk of sewentig kortverhale sou daarop volg, waarvan baie in die tydskrif as kortverhaal van die maand bekroon is met prysgeld van £5. Deur die bemoediging van EB Grosskopf, destyds redakteur van Die Naweek, het daar ’n paar sketse en jeugverhale van hom verskyn.

Nog ander is later opgeneem in verskeie kortverhaalbundels, soos Mosaïek en Allegaartjie.

WA Hickey is in 1940 met Olga Gibson, ’n onderwyseres van Standerton, getroud en uit die huwelik is drie kinders, ’n seun en twee dogters, gebore. Bedags het hy gewerk en saans, wanneer die kinders geslaap het, het hy dikwels tot diep in die nag geskryf, meestal kortverhale, maar ook talle radiodramas en vervolgverhale.

As leerlingvoorman by die spoorweë en later voorman het hy ongereelde ure gewerk. Die tydjies wat hy vry gehad het, is meestal in die veld deurgebring. In daardie dae was hy ’n geesdriftige jagter en het hy die diere van die Laeveld intiem leer ken.

Hy het later stasiemeester geword en in 1955 is hy na Brits verplaas, waar hy in 1967 as distriksinspekteur uit die diens van die spoorweë getree het. Hy het hom op Brits gevestig en daar kon hy hom toelê op die skryf van jeugverhale waarin hy sy mensekennis en sy kennis van die natuur meesterlik verwerk het tot aangrypende verhale wat die aandag enduit gevange hou, het Tisha Steyn verder in Beeld geskryf.

In 1956 skryf hy ’n reeks hoorspele vir die radio onder die titel Malisèl en die tweeling. Die reeks is in 1957 en 1960 hervat en in 1960 is dit in boekvorm deur Nasionale Boekhandel uitgegee.

Malisèl en die tweeling is in 1960 deur Nasionale Boekhandel uitgegee. Vir Boet, Fanie en Malisèl is die plaas ’n plek met heerlike moontlikhede sonder einde. Sommer so sonder dat hulle dit weet, lei een lekker ding na iets anders wat lekkerder is, en dit is gewoonlik dan dat die moeilikheid begin. Want lekker verander maklik in kattekwaad, al is dit per ongeluk. En dan is Oupa by met die lat in sy hand. Malisèl en die tweeling bied ’n genotvolle ervaring van lewenslustige kinderdae en opregte menseverhoudinge. Die sketse is deur Dorothy Hill Kühne, wat ook die Huppel-reeks geïllustreer het.

Op versoek van die SAUK het Hickey in 1960 ’n vervolgverhaal vir die Uniefees-program van die SAUK geskryf met die titel Wankelskrede. Later het nog twee vervolgverhale gevolg, naamlik Die held van Gara en Belofte maak skuld.

Dit was in Brits, in die spoorweg-sinkhuis met die palmboom voor die venster, waar Will se bekendste boek, Twee vir ’n stuiwer, vorm aangeneem het. Dit is in 1967 gepubliseer en die “skitterboek van 1967” genoem. Dit het vele herdrukke beleef en is herhaaldelik vir skole voorgeskryf. Dit is deur SE von Broembsen onder die titel Two for a farthing in Engels vertaal.

Op die oog af, skryf Jan Kromhout in Die Transvaler van 19 April 1965, is Twee vir ’n stuiwer ’n blote mossieverhaal, “maar ten opsigte van toespelings op die mens herinner dit aan Freda Linde se Die rooi haan terwyl dit, wat genot vir die hele huisgesin betref, die leser aan Datei se Ure vol seesand laat dink.

“Hickey neem ’n aantal mossiefamilies onder die vergrootglas, laat hulle praat, redeneer, stry en baklei soos mensgesinne ook maar doen, en verskaf op dié wyse ’n paar uurtjies se genoeglike afleiding.”

Gelukkig moraliseer hy nooit nie: “Sy persoonlikheidjies, van wie Kuif Kwaster en Skeel At langsamerhand uitgroei tot leidende figure wat weens hul ‘sin vir waardes’ respek afdwing, is op stuk van sake bedeel met dieselfde variabele eienskappe as elke mens.”

In Tydskrif vir Geesteswetenskappe van Desember 1965 het JC Combrink geskryf dat hoewel Twee vir ’n stuiwer lig van aard is, anekdoties, losserig van bou, met min werklike verhaal daarin, daar tog baie is wat daarvoor vergoed. “Dis ’n boek oor mossies, maar ook nie. Eintlik gaan dit om ménse – allerlei mensetipes in mossiegestalte. Aan juiste waarneming van die mossielewe ontbreek dit nie: die lawaaierigheid, nesbouery, ens is goed raakgesien.

“Dit is egter die verbloemde waarneming van die mensdom wat jou tref. Die gedagte aan so ’n boek het by die skrywer ontstaan tydens ’n groot gesinskongres. Dit is dus nie vreemd dat die verhaal in sy anekdotiese verloop deurvleg is van gedagtes oor die gesinslewe nie. (...) Al die idees word op ’n terloopse, nieaanstootlike wyse gegee en soms is Langenhoven se stem kenbaar, byvoorbeeld in die humoristies-satiriese. Ook die ligte humor van Mikro se Mattewis en Meraai-boeke is hier en daar op te merk. (...)

“Die styl is gemoedelik, dikwels vonkelend en gevat, met ruim die helfte van die teks in die direkte rede. Die hantering van die dialoog is voortreflik. Hickey is geen onervare skrywer nie. Dit is duidelik merkbaar in die sprankelende wyse waarop hy sy stof aanbied.”

Oor die 2001-uitgawe is in Huisgenoot se boekerubriek geskryf dat die leser die wel en wee van die mossies wat amper net so mens word soos die mens self, baie goed leer ken. Dit is ’n klassieke en geliefde verhaal wat kinders geslagte al bekoor en nog steeds behoort te bekoor.

WA Hickey het vir PD van der Walt (Taalgenoot) verras met sy volgende boek, Been-af in die sirkus. “Hierdie keer is die verhaalpersone ’n olifantgesin en hulle wedervaringe word gebeeld teen die agtergrond van ’n rondreisende sirkus. Daar is die goedgehumeurde Paulus en sy vrou Talana, en dan ook nog die twee seuns, die inskiklike Felix en die ‘probleemkind’ Brutus. Die skrywer vermenslik sy diere en skryf met soveel vindingrykheid dat die roman prettige en onderhoudende leesstof is.

“Ten spyte van die vermensliking wat natuurlik die grondslag van die humor vorm, bly die karakters wesenlik olifant. Die taalgebruik weerspieël hierdie geestige vermenging van die menslike en die dierlike. Daar is ’n stewige verhaalbasis wat sorg vir genoeg spanning, afgesien van die vindingryke ‘persoonsbeelding’, en tesame met ’n paar sterk dramatiese momente verseker dit dat Been-af in die sirkus tot op die laaste bladsy boeiende leesstof bly. Hy toon ook in hierdie verhaal ’n grondige kennis van olifante en die sirkuslewe.”

In Waar koeëls nie gons nie (1973) vertel Hickey van die wedervaringe van ’n trop leeus wat uiteindelik in die Wildtuin ’n veilige hawe vind. 

Oor Waar koeëls nie gons nie is in Oosterlig geskryf dat die skrywer sy intieme kennis van die diereryk en veldlewe op ’n boeiende manier aan die leser oordra en dat hierdie boek ’n móét op elke boekrak is.

Henriette Grové (Hoofstad, 12 Oktober 1973) het egter voorbehoude oor Waar koeëls nie gons nie: “Die diere bly nie diere nie. Dikwels is daar ’n besliste breuk tussen die dier en sy omgewing. Ek meen dit kom daardeur dat Hickey sy diere gewoonweg laat praat. Dis nie alleen gedagtepraat nie, maar ook dialoog tussen mens en dier. (...) Daarby kom nog dat die dialoog sowel as die beskrywings so deftig-retories aandoen, boekerig. (...) Daar is tog ook mooi beskrywings. Kinders lees natuurlik agter die storie aan. Ek weet dat hulle gehou het van Hickey se Twee vir ’n stuiwer, en ek glo daar is genoeg in Koeëls wat hulle plesier sal gee.”

Hy het in 1976 begin werk aan die eerste twee boeke van die Manela-trilogie. Twee van die boeke is ook in Engels vertaal, as Manela the bull elephant en Manela and the poachers, en voorgeskryf vir skole. Die laaste in die trilogie was Manela kraai koning.

Volgens Louise le Roux in Oggendblad van 24 Julie 1981 is WA Hickey se aansien as een van Suid-Afrika se bekendste en bemindste skrywers van jeugverhale met die publikasie van Manela die olifantbul herbevestig: “Hy ken sy onderwerp – die natuur en sy inwoners – en hierdie deernisvolle verhaal van die besondere verhouding wat tussen ’n jong seun en ’n eensame olifantbul in die wildtuin ontstaan, sal oud en jonk bekoor.

“Die raak beskrywing van die ongerepte natuur en die jong seun, Daan, se opmerksaamheid en liefde daarvoor, asook sy menslike toegeneentheid vir Manela, die olifantbul met die seldsame lewensloop, maak van dié kinderverhaal ’n juweeltjie in jeuglektuur. Annette Stork se natuurgetroue illustrasies vul die teks pragtig aan.”

In Manela en die stropers is Daan en sy jeugvriend Mfishane albei veldwagters wat ’n stryd voer teen die gewetenlose stropers wat ’n veldwagter sal doodskiet as dit hulle sal help om ivoor in die hande te kry. Die boek is vol ontroerende tonele (soms bietjie sentimenteel), natuurinligting en humor.

Die eerste in die Manela-reeks het hy ná ’n uitdaging van sy uitgewer geskryf. Dié het gesê dat as WA Hickey ’n boek met dié besondere tema sou skryf, hy kon waarborg dat die boek aan skole voorgeskryf sou word. Hickey het hierdie uitdaging aanvaar en só is die eerste oplaag van 175 000 van Manela die olifantbul veral vir swart skole voorgeskryf.

In 1982 verskyn Bewakers van die koningshuis by Perskor. Hierdie verhaal gaan oor ’n groep hoërskoolleerders wat na ’n veldskool langs die Krugerwildtuin gaan om navorsing te doen oor die koningsjagluiperd. By die bekendstelling van die boek by die De Wildt-Jagluiperd-navorsingstasie het AJ Koen, direkteur van Perskor, gesê: “Hierdie boek vertel vir ons iets van die wonder van die natuur en voorsien in die ontvlugtingsbehoefte van veral die stadskind.” (Die Transvaler, 28 Maart 1983)

WA Hickey het nie eintlik baie gereis nie, maar het sy verbeelding “vrye teuels” gegee om sy verhale te vertel. Hy het anekdotes wat mens aan hom vertel het in sy verhale gebruik. (Beeld, 2 April 1984)

Sy oeuvre het aan WA Hickey in 1979 ’n erepenning vir sy bydrae tot die Afrikaanse jeuglektuur van die Hoërskool Langenhoven in Pretoria besorg, saam met Elsabe Steenberg, Ben Venter en Chris Barnard.

Tussen sy skryfwerk deur het hy ook die gemeenskap van Brits gedien as redakteur van die plaaslike koerant, sowel as in die stadsraad, die hospitaalraad en as lid van die Afrikaanse sakekamer. In 1985 is die biblioteek op Brits na hom vernoem. Die gedenkalbum wat in 1974 tydens Brits se jubileumjaar uitgegee is, is deur WA Hickey saamgestel en geskryf. Hy was in besonder dié persoon wat daartoe in staat was om dit te doen aangesien hy Brits se groei ervaar het.

In 1984 het hy oor ’n ongelyke sypaadjie gestruikel en ’n breinbesering opgedoen wat bloeding op die brein veroorsaak het. Dit het tot woordblindheid gelei: hy kon nie meer lees of skryf nie. Maar Will het nie gaan lê nie. Hy en sy vrou, Olga, het daarna saamgewerk: hy het gedikteer en sy het geskryf. So het Kruit en klinkerkole in 1985 en Manela kraai koning ontstaan. (Beeld, 26 Mei 1988)

Aan die einde van sy skryfloopbaan kon hy, benewens sy jeugverhale, ook 75 kortverhale, 64 vervolgverhale en etlike radiohoorspele agter sy naam skryf.

WA Hickey het vriende uit alle lae van die bevolking – van skrywers, digters en uitgewers tot predikante, onderwysers en kinders. Of hy vyande gehad het, weet niemand nie. Daar word gesê dat hy nie baie van luiaards hou nie.

WA Hickey het in sy eerste kortverhale gebruik gemaak van sy jagondervindinge, asook van sy kennis van die veldlewe om sy kortverhale te skryf, is in Die Vaderland van 9 April 1965 geskryf: “Sy warme en natuurlike skryfwyse was veral geskik vir sketse en verhale uit die natuur en hy het gou bekend geword as ’n skrywer van verhale vir die jeug.

“In latere jare het dit tekenend van sy werk geword dat hy byna nooit iets anders aangedurf het as ’n menslike en prikkelende beskrywing van sy eie ondervindinge, ook uit sy kinderdae en dinge waarvan hy ’n intieme kennis gehad het.”

In Maart 1989 het hy egter afskeid geneem van sy geliefde lessenaar, stoel, twee tikmasjiene en die manuskripte van sy boeke. Volgens Olga is al dié geliefde besittings van haar man aan die stadsraad van Brits geskenk. Hy het vier jaar lank in dié raad gedien.

Hy was trots op sy loopbaan in die spoorweë, wat vir hom vol en ryp was. Sy skryfwerk het sy loopbaan minder beïnvloed as wat ’n mens sou dink, het hy aan Die Vaderland (9 April 1965) gesê: “Dit het eintlik gehelp om my kennis en agtergrond vir skryfwerk op te bou en uit te brei. Vroeër jare het ek gedink dat daar niks lekkerder sou wees as om na my aftrede op ’n plasie in die Laeveld te gaan uitspan nie. Nou weet ek nie meer nie.”

Op 18 Desember 1989 is WA Hickey na ’n lang siekte op 80-jarige ouderdom in sy woning op Brits oorlede. Hy het sy vrou en twee dogters nagelaat.

Publikasies

Publikasie

Malisèl en die tweeling

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1962
  • 1963
  • 1965
  • 1967
  • 1969
  • 1983

ISBN

0624019500 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Twee vir ’n stuiwer

Publikasiedatum

  • 1965
  • 1967
  • 1968
  • 1970
  • 1972
  • 1973
  • 1976
  • 1977
  • 1979
  • 1981
  • 1991
  • 2001
  • 2003
  • 2016

ISBN

  • 0628000391 (hb)
  • 0628013000 (sb)
  • 0628013809 (sb)
  • 062803377X (sb)
  • 1919825495 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Johannesburg: Perskor
  • Pretoria: LAPA
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Engels, 1969, 1972 Two for a farthing vertaal deur SE von Broembsen

Resensies en besprekings 

  • Boeke om voor uit te kyk. Die Burger, 9 Mei 2016
  • Combrink, JC: WA Hickey: Twee vir ’n stuiwer. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Desember 1965
  • Kromhout, Jan: Twee vir ’n stuiwer ’n genotvolle werk. Die Transvaler, 19 April 1965
  • Van Zyl, Anna: Mossies en mense. Volksblad, 22 April 1965

 

Publikasie

Vier diere: vier dieresketse vir die jeug

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1975

ISBN

0628009119 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings 

Geen

 

Publikasie

Been-af in die sirkus

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1975

ISBN

0628008171 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Voortrekkerpers
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings 

  • Van der Walt, PD: Wat lees ons? Taalgenoot, Mei 1969

 

Publikasie

Waar koeëls nie gons nie

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1976
  • 1978

ISBN

0798600713 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Brits, 19241974: gedenkalbum

Publikasiedatum

1974

ISBN

(hb)

Uitgewer

Brits: Die Stadsraad

Literêre vorm

Gedenkalbum

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Manela, the bull elephant: a story for the young at heart

Publikasiedatum

  • 1976
  • 1978

ISBN

0798602260 (hb)

Uitgewer

Pretoria: De Jager-HAUM

Literêre vorm

Diereverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Gerryts, Egbert: Verbeeldinglose skryfstyl bederf boek. Hoofstad, 9 April 1976

 

Publikasie

Voetvolk van die Bosveld

Publikasiedatum

1978

ISBN

0628013124 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Diereverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botha, Johann: Gawe jeugverhale van Perskor. Die Transvaler, 29 Julie 1978
  • BV: Bosveld-verhaal laat almal ryker. Die Transvaler, 4 November 1978

 

Publikasie

Manela and the poachers

Publikasiedatum

  • 1979
  • 1983 (skooluitgawe)

ISBN

  • 0798604905 (hb)
  • 0798612592 (sb)

Uitgewer

Pretoria: De Jager-HAUM

Literêre vorm

Diereverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Manela die olifantbul

Publikasiedatum

  • 1981
  • 1985

ISBN

  • 0907996140 (hb)
  • 0868160156 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Juventus

Literêre vorm

Diereverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Le Roux, Louise: Verhaal vol deernis sal oud én jonk bekoor. Oggendblad, 24 Julie 1981
  • Miles, Elske: Dié olifantbul is ’n plesier vir oud en jonk. Beeld, 29 Oktober 1981

 

Publikasie

Manela en die stropers

Publikasiedatum

1981

ISBN

0907996108 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Juventus

Literêre vorm

Diereverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • EB: “Manela” baie kunstig versorg. Oggendblad, 6 November 1981
  • Die Hervormer, 31 Desember 1981
  • Steynberg, Betsie: ’n Boek vir jong diereliefhebbers. Die Transvaler, 5 April 1982

 

Publikasie

Bewakers van die koningshuis

Publikasiedatum

1982

ISBN

0628023375 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Diereverhale vir die jeug

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Bewakers van die koningshuis. Die Vaderland, 28 April 1983
  • Luiperds hou hul aan die gis. Die Transvaler, 8 Maart 1984
  • Nóg ’n natuurverhaal uit Hickey se pen. Die Transvaler, 28 Maart 1983

 

Publikasie

Kruit en klinkerkole

Publikasiedatum

1985

ISBN

0628 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings 

  • Van Zyl, Anna: Oorspronklik en oortuigend. Beeld, 14 April 1986

 

Publikasie

Manela kraai koning

Publikasiedatum

1988

ISBN

0798704861 (sb)

Uitgewer

Pretoria: NG Kerkboekhandel

Literêre vorm

Diereverhale vir die jeug

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Artikels oor WA Hickey

  • Hickey, Willem Andries: biografie [Tikskrif by NALN]
  • Mossie-kenners ontmoet. Die Transvaler, 7 Oktober 1971
  • Rautenbach, Elmarie: Skrywer skenk toerusting aan dorp. Die Burger, 13 Maart 1989
  • SA verloor geliefde storieman. Beeld, 19 Desember 1989
  • Skrywer van kinderboeke op Brits oorlede. Die Burger, 19 Desember 1989
  • Steyn, Tisha: ’n Opregte mens wat in sy boeke sal voortleef. Beeld, 29 Mei 1988
  • Stuiwer se baas werk aan historiese roman. Die Transvaler, 14 Julie 1969
  • Twaalf boeke op sy naam. Beeld, 2 April 1984
  • WA Hickey moet uitspan. Die Vaderland, 9 April 1965
  • Will Hickey (Wikipedia)

WA Hickey se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2014-03-31 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0
Top