
Vyf sekondes voor Vrydag
Ihette Senekal
Tafelberg
ISBN: 9780624093343
............
Kom ons gesels oor die ooglopende olifant in die vertrek: Dié is die hoeveelste boek oor ’n selfdegeslagverhouding tussen twee meisies in Afrikaans? Presies. Daar is beslis min.
.............
Dié boek is vir vyf sekondes voor middernag se lees. Hoekom? Want so normaal as wat alles een oomblik van die nag kan lyk, verander dit handomkeer voor jou oë binne die bestek van ’n paar minute of binne ’n paar bladsye. Blaai om, en dis ’n nuwe dag.
Skrywer
Ihette Senekal is verbonde aan Unisa en spesialiseer in Afrikaanse poësie en literêre teorie. Haar debuut het die Sanlamprys vir Jeuglektuur van 2021 se kortlys gehaal. Dit is altyd opwindend as ’n sterk debuut so vroeg al begin storiespiere bult, maar eers meer oor die storie.
Jana Roux wil films maak en haar lewe bestaan ook uit films kyk. Haar ma s’n en dié wat sy in die filmklub speel en bespreek. Haar suster, Mia, is ’n tipiese happy-go-lucky-matriekmeisie soos in die flieks, wat met groot ontnugtering ’n noue ontkoming het. Hulle pa is ’n vername chirurg en sy vrou is oorlede weens terminale kanker. Dit is juis in die karakters se onderskeie verhaallyne waar die goue draad van hierdie jongvolwasseroman lê.
Karakterisering
Wat karakterisering betref, is hierdie karakters baie goed geskryf. Ek ken waarskynlik ’n Mia, ’n Daniel en onder andere ook ’n Alex. Die karakters is nie te stereotipies nie, maar genoeg van ’n argetipe vir die leser om mee te kan identifiseer. Die gebruik van hedendaagse tegnologie-elemente soos Instagram, YouTube en selfs TikTok maak dit relevant vir die jongvolwasseleser. ’n Jong leser sal beslis tuis voel in die vertelwêreld van Jana.
Verskeie toepaslike onderwerpe word deurgaans aangeraak. Eerstens is die familiedinamika in die Roux-huis interessant. Die pa is ’n gevestigde hartchirurg en navorser, maar sy vrou is ’n geruime tyd terug oorlede aan kanker. Jana en Mia moes leer om na mekaar te kyk in die afwesigheid van hulle ma én pa. Dit is interessant hoe die hond Olaf as ’n verbindingdsbeeld gebruik word om die afwesigheid van die ma aan te vul, maar ook om die gesinslede aan mekaar te verbind, veral omdat die struikelblok van ’n afwesige nie uit die weg geruim word nie. Hierdie boek kan maklik ’n opvolg kry.
Die angs oor loopbane en wat jou ouers oor jou keuses gaan dink speel ook ’n sentrale rol. As iemand wat self in die geesteswetenskappe studeer het, kan hierdie leser getuig dat oordeel, ongeag of dit van jou ouers of wildvreemdelinge kom, nogal lekker met jou kop en hart kan mors.
...........
Wanneer karakterisering ter sprake is, word die kwessie van buitestanders ook aangeraak omdat hulle juis die karakters is waaroor daar nie gepraat word nie.
.............
Wanneer karakterisering ter sprake is, word die kwessie van buitestanders ook aangeraak omdat hulle juis die karakters is waaroor daar nie gepraat word nie.
Bildungsromans, buitestanders of omstanders
Kom ons gesels oor die ooglopende olifant in die vertrek: Dié is die hoeveelste boek oor ’n selfdegeslagverhouding tussen twee meisies in Afrikaans? Presies. Daar is beslis min. Zelda Bezuidenhout se boeke vul reeds ’n leemte vir sulke verhale en gee die diversiteit van leesstof vir jongmense ’n goeie hupstoot. Dié verhale behoort tieners en jong volwassenes se angs rondom kwessies soos hulle seksualiteit en die reis na selfontdekking minder stresvol te maak. Dit gee ook vir dié wat nie die ervaring van die karakters deel nie goeie insig in hoe dit moet voel om so ’n diepgaande deel van jouself te moet wegsteek omdat jy nie binne die norme van die samelewing pas nie.
Net hier begin Vyf minute voor Vrydag (2022) sy literêre kleure wys. Indien daar met ’n postmoderne bril na hierdie verhaal gekyk word, is dit duidelik dat daar verskeie ratte aan die draai is.
Eerstens kom daar gereeld selfreferensie voor deurdat die verteller soms direk met die leser praat. Jy lees nie net die verhaal nie, dit word aan jou vertel deur Jana, en die leser word die geleentheid gebied om deur die teks ’n blik op die karakter se lewe te kry.
Hierdie kenmerk van selfreferensie wys ook ’n ander kenmerk in die verhaal uit, naamlik dat dit ’n tipe bildungsroman is. Alhoewel die verteltyd korter is as dié van ’n tradisionele bildungsroman, of ontwikkelingsroman, is daar ’n interessante verskynsel wat sterk aan ’n bildungsroman herinner.
Volgens Graham se A history of the bildungsroman (2019) word die volgende stelling gemaak oor die inhoud van moderner bildungsromans teenoor tradisionele bildungsromans: “[T]he Bildungsroman, originally concerned with young, white, privileged, heterosexual men, came to give expression to the marginalised and silenced, in writing about the formative experiences of woman, LGBTQ people, and post-colonial people” (Graham 2019:1).
Hier is beslis ’n interessante herskrywing of moontlike herappropriasie van die bildungsroman aan die gang wat beslis postmodernisties van aard is. Indien daar op die regte plekke gesoek word, kan daar moontlik gesprekke tussen dié jeugroman en Catcher in the rye (1963) geïdentifiseer word. Daar is wel ’n paar belangrike verskille, maar Colden kom ook tot ’n vlak van selfbesef net soos wat Jana haarself ontdek.
’n Studie oor presies hoe en waar hierdie jeugroman, of dalk is dit meer ’n jongvolwasseneroman, binne die kontemporêre kinder- en jeugliteratuur val, sal interessante resultate oplewer.
...........
Laastens is dit dié tipe storie wat elke tiener behoort te lees. Nie omdat dit oor omstrede verhoudings of buitestaanders handel of buite die lyne van die konserwatiewe samelewing inkleur nie, maar omdat dit die potensiaal het om van ’n leser ’n meer empatieke en verstandige leser te maak.
............
Laastens is dit dié tipe storie wat elke tiener behoort te lees. Nie omdat dit oor omstrede verhoudings of buitestaanders handel of buite die lyne van die konserwatiewe samelewing inkleur nie, maar omdat dit die potensiaal het om van ’n leser ’n meer empatieke en verstandige leser te maak.
Ten slotte het elke mens sy eie paadjie om te loop van kind na volwassene. Hierdie verhaal bevat al die nodige elemente uit ’n gevestigde en klassieke romanformaat, maar gebruik dit om ’n stem te gee aan die lede van ’n groep wat die meeste van die tyd as buitestaanders beskou word. Al die nodige elemente van ’n goeie jongvolwasseneverhaal word hier vasgevang – net vyf sekondes voor Vrydag.
Verwysings
Literary Devices. 2022. Bildungsroman. https://literarydevices.net/bildungsroman/ (13 September 2022 geraadpleeg).
Graham, S. 2019. A history of the bildungsroman. Cambridge: Cambridge University Press.
Le Roux, A. 2017. Buitestander. Literêre terme en teorieë. https://www.literaryterminology.com/index.php/b/1569-buitestander (13 September 2022 geraadpleeg).
Lees ook:
Sanlamprys vir Jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Ihette Senekal

