Vyf lewenslesse op die Camino-staptog

  • 7

Daar is baie wanpersepsies gekoppel aan die hedendaagse Camino-stap, waarvan miskien die grootste lui dat dit ’n spirituele affêre is. Jy gaan stap die Camino om jouself te vind. Die Camino roep jou en verander jou lewe vir altyd. Dis ’n magiese ervaring en dit bied antwoorde op die sin van die lewe. 

Met ’n geskiedenis wat dateer uit die Romeinse era en in die Katolieke Christendom gegrond is, is dit te verwagte dat die pelgrimstog baie simboliek dra. Die tradisies en mistiek is onmisbaar: in die relikwieë langs die pad, die Bybelse legendes, argitektuur en gewigtigheid van die katedraal wat ten einde op jou wag.

Ek het egter vooraf min geweet van die geskiedenis van die Camino na Santiago (feitlik niks nie), en na afloop van die reis en ’n besoek aan die pelgrimsmuseum was ek nóg meer verward oor die ware verloop van sake.

’n Klipkerk op pad na Valença teen die Portugese-Spaanse grens. Ek onthou ’n ongelooflike Sondag deur woude en in die platteland waartydens ons kon hoor hoe die Portugese hul diens oor ’n luidspreker uitsaai. In die verlede was dit blykbaar so om seker te maak dat ook die werkers in die veld die boodskap kan hoor.

Die Obradoiro-plein (Praça do Obradoiro) is die finale bestemming waar verskeie Camino-roetes van regoor Europa bymekaarkom. Van daar kan jy na Finisterre stap (nóg drie dae se reis te voet) wat in die Romeinse tyd as die “einde van die wêreld” beskou is.

Op elke klein dorpie wag daar ’n ou kerkgebou. Die blou en wit teëls is eg Portugees.

Tog vind duisende mense regoor die wêreld steeds aanklank daarby om in die voetspore van die apostel Jakobus (St James) te volg en ek vermoed dit het niks met die tradisionele definisie van ’n pelgrimstog te doen nie. Die Camino-stap het ’n moderne, mediagedrewe fenomeen geword en al hoe meer Suid-Afrikaners (byna so baie soos die Duitsers) vat die pad Spanje toe.

Die gewildheid hiervan het sekerlik baie te doen met die feit dat Camino-toerisme nou ’n toppunt bereik het. Jy kan gemaklik slaap en jou rugsak met ’n afleweringsdiens vooruit stuur. Daar is selfs diensondernemings wat jou visumaansoek behartig, roete beplan en begeleide gidsdienste aanbied – boonop nog alles in Afrikaans ook.

Die Portugese Camino bied twee opsies: die kus- of sentrale roete. Ons het ná dag 1 langs die kus genoeg van die wind en see-uitsig gehad en besluit om van daar na die sentrale roete te skuif. In Spanje het ons weer die “spirituele roete” bygelas met die kus langs en dit was ’n onvergeetlike ervaring.

Ons is bederf met ongelooflike woude. Spanje se natuur was ’n hoogtepunt.

Die ikoniese geel Camino-pyle is maklik om te volg en ons het feitlik heelpad gestap soos die pyle verskyn het. Ek het boonop ’n hele dag lank alleen gestap sonder enige GPS, selfoonontvangs, ’n kaart of app!

Hoekom die Camino na Santiago?

Iewers kom ek op die konsep van spirituele magnetisme af. Is daar ’n groter krag in hierdie “heilige plekke” wat mense van verskillende geloofsoortuigings in massas soontoe roep? In Taoïsme word daar na “die weg tot volmaaktheid” gesoek. Boeddhiste gaan op ’n innerlike reis om Nirvana te vind. In die Joodse tradisie beteken die naam Jehovah “God op die Pad”, en Christene volg die pad wat die apostels na verre lande geneem het om die Woord te versprei.

Vandag nog reis mense na Jerusalem, Rome, Santiago, Mekka en Medina. Bykans 10 miljoen pelgrims vertrek elke jaar na Indië en in Europa is daar soveel as 20 miljoen mense op pad na heilige bestemmings.

Elke pelgrim stap om ’n ander rede en die meeste kom terug met ’n nuwe uitkyk op die lewe wat dikwels niks met verlossing te doen het nie. Langs die pad ontmoet jy hier en daar iemand wat met ’n gruduiwel worstel, maar ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die meerderheid mense dit deesdae vir die eenvoudige genot en avontuur daarvan doen.

Ek is terug huis toe met letsels van die blase tussen my tone, ’n lelike sonbril-tan, fermer bene en ’n nuutgevonde waardering vir my eie bed. Die stories, kameraadskap en vriendskappe wat jy vorm, het vir my egter die belangrikheid om “myself te vind” oortref.

Tog kry jy baie kans om te dink en is dit byna onmoontlik om nie ’n paar waardevolle dinge te besef nie. Die Camino bied jou ’n luuksheid om harde dinkwerk te doen en terselfdertyd ook net in jou “niks-boks” te verkeer.

Pak so lig as moontlik en beperk jou sak tot minder as 10% van jou liggaamsgewig. My rugsak het net minder as 7 kg geweeg en ek het niks onnodig saamgedra nie.

Ek en my vriendin, Alison op dag 1 op pad na die Katedraal in Porto waar ons reis begin het.

.................

Hier is my vyf groot Camino-lesse om te onthou:

1. Ouderdom is ’n relatiewe begrip

Ek is jonk en aktief en was gewillig om my gemak vir ’n avontuur te verruil, maar as ek vooraf geweet het wat die Camino-stap gaan behels, het ek dalk kop uitgetrek. Die gidsboeke waarsku jou nie teen die talle heuwels wat op jou wag nie!

Ek was absoluut stomgeslaan deur die aantal bejaardes (dis nou mense ouer as aftree-ouderdom) wat die reis meegemaak het.

Dit het my laat besef dat ek tot baie meer fisiek in staat is en dat my denke rondom ouderdom en gesondheid my beperk en net voortydig sal laat oud word.

Ponte de Lima is die oudste villa in Portugal (gaan lees gerus meer oor die legende van die Romeinse brug). Die digter António Gonçalves Ferreira is in 1885 hier gebore. Sy werk as magistraat, skrywer en vertaler word steeds erken as van die mees beduidende bydraes tot Portugese literatuur in die 20ste eeu. Hy is in 1963 in die stad Porto oorlede.

2. Laat vaar jou liggaamlike hangups

Benewens die publieke storte en ou ooms in wit onties by die herberge, het ek besef dat veral ons Suid-Afrikaanse vroue onnodig selfbewus oor ons lywe is. In Galicia het ons op die strand baljaar waar vroue van verskillende ouderdomme en liggaamsgroottes in die kleinste baaibroekies en selfs sonder bikinitoppies rondgeloop het.

Die pelgrimstog dwing jou om jouself grimering- en filtervry aan vreemdelinge te ontbloot. Die mooi en die lelik kom na vore en daar is fisies en metafories geen wegkruipplek nie. Ek het ook besluit om nooit weer vir my voete te vertel hulle is lelik nie. Hulle het my immers oor berge, grasvelde, ongemaklike keisteenpaadjies, in stede en deur twee lande gedra!

In Ponte de Lima maak die straatligte musiek en het ons oor ’n Romeinse brug uit die eerste eeu gestap.

3. Die natuur bied meer verlossing as ’n klipkerk 

In die 6de eeu voor Christus het die Hindoes reeds in groot groepe na riviere en ander heilige plekke saamgetrek. Die Boeddhiste het talle heilige plekke waarheen pelgrims vandag nog reis, en die Sjinto-gelowiges onderneem pelgrimstogte na plekke in die natuur waar die kami of natuurgeeste woon.

Hierdie mense beskou die pelgrimstog eerder as ’n geleentheid om in ’n heilige plek te verkeer en dankbaarheid teenoor die natuur te bewys. Die woude veral, en die Spaanse kus was hoogtepunte.

Die Portugese Camino bied nog talle geleenthede vir mense om ongerepte plekke te verken waar geen begeleide toer of reisgids jou sal neem nie. My volgende uitdaging is om die Kumano Kodo-pelgrimsroete in Japan te stap en die Sjinto-Boeddhiste se heilige grond te betree.

Die Camino is nie altyd idilliese strande en groen woude nie. Ons het by ’n kruispad regs gedraai en vir 18 km deur ’n aaklige nywerheidsgebied gestap.

4. Die reis is belangriker as die bestemming

Enige pelgrimstog sal mens dwing om eksistensiële vrae te vra: Wie is ek, wat maak ek hier, wat is die doel van my lewe en hoe kan ek ’n beter mens wees? Tog het ek besef dat daar geen doel is om té diep in jou eie gedagtes en onsekerhede verstrengel te raak nie.

Die reis is in baie opsigte ’n metafoor vir die lewe en dwing jou om werklik in die oomblik teenwoordig te wees. As ons tog net meer gereeld kan stop en besef dat die sin van die lewe nie veel meer is as om bloot in die oomblik te leef nie!

In Portugal móét jy ’n Francesinha eet. Dit bestaan uit brood met ham, varkvleis, kaas en ’n soet vleissous (dit proe amper soos monkey gland- of Jimmy-braaivleissous). Google gerus ook pastel de nata, pulpofeira en bacalhau indien jy honger is.

5. Die mens is nie ’n eiland nie

Die grootste geskenk wat die Camino-stap vir elke pelgrim bied, is vriendskap. Ja, dis ’n cliché, om goeie rede.

Die aard van die pelgrimstog ontsluit ’n spesiale verhouding tussen die aardse en die heilige, tussen die individu en gemeenskap, en daarom word jou lewe op een of ander geheimsinnige manier getransformeer.

Ek vind soveel aanklank by die konsep van die pelgrimsreis as feesviering, en dit was ’n ongelooflike ervaring om deel te wees van ’n groep mense wat uiteindelik dieselfde eenvoudige doel gehad het: om die eindbestemming te haal en dit in die proses te geniet.

Langs die pad het ons nie net saam oor moeilike dinge nagedink, ons pyn gedeel en saam getreur nie; ons het saam gelag, die eenvoudige dinge waardeer en ongelooflike dinge buite ons gewone verwysingsraamwerke beleef.

.................

Só het ek gestap:

Portugal

Dag 1: Porto tot by Vila Chá (29 km)
Dag 2: Vila Chá tot by São Pedro de Rates (20 km)
Dag 3: São Pedro de Rates tot by Tamel (25 km)
Dag 4: Tamel tot by Ponta de Lima (25 km)
Dag 5: Ponta de Lima tot by Fervença (30 km)

Spanje

Dag 6: Fervença tot by Tui, (13 km)
Dag 7: Tui tot by Mos (22 km)
Dag 8: Mos tot by Pontevedra (29 km)
Dag 9: Pontevedra tot by Armenteira (25 km)
Dag 10: Armenteira tot by Vila Nova de Arousa (24 km)
Dag 11: Vila Nova de Arousa tot by Padron (3 km stap en 2 uur per boot)
Dag 12: Pádron tot by Santiago de Compostela (24 km)

.................

Praktiese wenke:
  • Die minder-bekende Portugese roete is die moeite werd – verblyf en kos is ook boonop goedkoper as in Spanje. Portugal was loshande die wenner in my boekies.
  • Baie mense stap met die sentrale roete vanaf Pontevedra (Spanje) na Santiago. Bewys jouself ’n guns en neem die “Spiritual variant”-roete aan die kus van Galicia. Dit is besonder mooi en die seekos is uitmuntend!
  • Maak jou badgoed en medikasietassie minder. Daar is baie apteke langs die pad en ’n goeie voorraad pleisters is al wat jy werklik nodig het.
  • Al sit jou skoene hóé gemaklik, maak seker jy loop hulle ordentlik in.
  • Stapstokke is nie vir oumense nie. Jou heupe sal jou ewig dankbaar wees.

.................

◊ Indien jy nog vrae het, kontak gerus vir Chrizane via Instagram by @kostelikblog of stuur vir haar ’n e-pos na kostelik@chrizane.com.

◊ Vir nog foto’s, besoek Chrizane se Insta-blad by @chrizane_g

  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    Johan van der Hoven

    Hi Chrizane
    Tiana het vir my die skakel na jou blog gestuur en dit was so lekker om jou ervarings te lees ... Ons moet tog eendag saam met Tiana/Christof en julle saamkom om dit wat jy sê, te onderstreep. Ek het al drie Camino's gedoen (Die laaste een die Frances verlede jaar), en ek is NIE 'n stapper nie.
    Die Camino's werk in jou binneste ….

  • Hallo Chrizane, baie baie dankie vir die insiggewende relaas van julle Portugese roete. Ek is 75 en stap hierdie roete in Augustus saam met my susterskind Anet wat 60 is. Veral die stopplekke kom baie handig te pas. Nogmaals baie dankie vir hierdie interessante opmerkings. Groete, Hilda Moll, Montagu

  • Avatar
    Chrizane Geldenhuys

    Oom Johan! Dis nou lekker om van jou te hoor. Dis immers waar. Die Camino werk in jou binneste al beplan jy dit nie so nie.

  • Avatar
    Chrizane Geldenhuys

    Liewe Hilda. Dis wonderlik om te hoor julle gaan die Portugese roete aanpak! Ek sal dit maklik weer doen. Die stopplekke is nie beslis nie, maar ons was baie dankbaar vir die twee korter stapdae. Op dag vyf kan julle by Rubaies stop in plaas van die 30km tot by Fervenca. Ons het in Fervenca in 'n duur privaat plek geslaap (Quinta do Caminho), maar daar is ook 'n vreeslike oulike privaat herberg met klomp kleurvolle blombakke voor die ruite (jy kan dit nie misloop nie). Die area is egter baie afgeleë maar asemrowend mooi. Hulle maak ook vir pelgrims aandete by die spesifieke herberg. Ons was spyt ons het nie daar geslaap nie. Dis sowat 10km vanaf Rubaies. Ons het meestal die Stingy Nomads se roetes gevolg. Hulle blog is vol wonderlike wenke en inligting: https://stingynomads.com/portugal/hiking-portugal/

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Ons is pas terug na 180km oor 9 Dae op die Camino Portuguese van Balugaes deur Ponte de Lima-Valenca-Porrino-Arcade-Pontevedra-Caldas de Reis en Padron tot in Santiago Compostela. Dit was 'n ontdekkingsreis sowel as 'n pelgrimstog met hopeloos te veel om in 'n enkele blog te vertel.
    Ons reëlings is getref deur Portugal Green Walks en alles het seepglad verloop. Goeie hotelle en herberge en die vervoer van ons bagasie van plek tot plek. Ons het van SA af met Emirates gevlieg deur Dubai tot in Lissabon (oor Heathrow sou twee maal duurder wees.) Terloops, SA se lughawens is wêreldklas - wat ek kan getuig na 11 vlugte en besoeke aan drie plaaslike en vier internasionale lughawens.
    Ek het my verkyk aan alles wat oud is in daardie hoek van Europa. Nieu-Seeland en SA is kleuters vergeleke met daar waar ons voorouers vandaan kom. Ou trekkers en plaasimplemente. Ou paaie - ons het op die Via Romana gestap wat deur die Romeine uitgelê is. Ou ooms en tantes het in die lande gewerk. Die kwaliteit van water orals was so helder ek was in die versoeking om dit te drink.
    Die Portugese is vriendelike en hulpvaardige mense en hulle seekos uit die boonste rakke. Interessante mense op die Weg. Jong meisies in groepe van twee of drie. Ouer persone, soos ons twee, 'n Duitse paartjie wat lande vashou, twee Portugese broers, een wat voor die ander stap want laasgenoemde het ses toonnaels verloor en stap hinkepink. Twee Hollandse dames wat ons vermaak met “Sarie Marais”. Ons antwoord met “Piet Hein, zijn naam is klein ...” En talle ander.
    In Pontevedra kom ons aan net toe 'n internasionale driekamp aan die gang is. (Ek was eens dom of dapper genoeg om sulke avonture aan te pak.) 'n Hand vol SA atlete onder hulle.
    Ek abandonneer my stapskoene op dag drie en koop 'n paar hardloopskoene wat baie vriendeliker is op my voete. Verloor een toonnael. Lap met pleisters.
    Ons het nat gereën die eerste ses km van die laaste dag se stap. Verder sonskyn en temperature in die 20’s. 'n Goeie vollengte reënjas is 'n moet.
    Baie tyd om te dink. Nuwe hoofstukke en tonele vir ’n roman en insigte oor die etiek in die regsproses het sommer so in my gedagtes opgestaan. En oor ons plek in die heelal. Ons is klein en jonk en ons tyd so gou verby.
    Meer miskien later met ’n volgende gesprek.

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Nog 'n paar opmerkinge oor die Camino Portuguese: So aantreklik as wat die landskap is, en so indrukwekkend as wat die argitektuur van die kerke en katedrale is, gaan die Camino oor mense. Die mens binne in jou, die persoon wat langs jou stap, die persone wat in jou geheue bly en telkens op die weg 'n gesprek in jou gedagtes met jou voer. En, natuurlik, die ander pelgrims op die Camino.
    Na my skatting was daar ten minste 400 – 500 pelgrims aan't stappe binne die omtrek van so 10 – 15 km van ons af. By die katedraal in Santiago was daar 'n paar duisend.
    Die handjies-vashou Duitse paartjie het ons gereeld ontmoet. Langs die pad of by eetplekke. Ek terg hulle omdat hulle te oud lyk vir handjies vashou. Hulle lag omdat ek by elke rusplek sjokolade eet, en uitdeel.
    Vir 'n Duitse student van Heidelberg jok ek toe sy vra waarom ek gaan sit het. "Ek wag net vir die vrou wat my middagete moet kom aflewer." Sy lag toe Ansie aankom, kom sit en ons kospakkies opmaak. Later, by die katedraal vra sy: "Where is the woman who carries your lunch?" (Op soek na 'n eetplek!)
    Ansie het by die kafeetjie langs die pad koffie gedrink, maar ek het gedink bier is beter, met sjokolade en doughnuts en croissants. Vir die electrolytes en energie. Ek dra 'n blikkie Coke en 'n appel saam. Ansie dra sjokolade en koekies.
    Ons loop vier bejaarde Iere raak net nadat ons oor die brug by Ponte de Lima is. Een vertel hulle was verlede jaar in Kaapstad en het, toe hulle op Leeukop gaan stap het, op 'n lyk afgekom. Nadat hulle dit aan die polisie rapporteer het, vat die polisie al vier van hulle na die toneel en vra, "When did you arrive here?"
    "Last Friday," antwoord die verbaasde Iere.
    "Well," verduidelik die konstabel, "then I can scratch you from our list of suspects. He's been dead more than two weeks." Die Iere wil by my weet of die konstabel ernstig was of net hulle been getrek het.
    Op die laaste been van Padron (waar selfs 'n valskerm nie oopgaan tydens die siesta nie) vertrek ons om sesuur in die reën en wind. Ons poncho-styl-jassies is hopeloos onvoldoende. Ons ontmoet die twee Portugese broers. Dit is donker en ons kan nie die roete-aanwysers kry nie. Hulle help soek. Saam kom ons tog aan die stap. Ons word goeie vriende en neem later swaar afskeid. Ek ken nie hulle name nie, maar ek ken hulle storie.
    'n Jong man van Ierland - toe ek en hy probeer lees watse maak die antieke trekker langs die pad is - vertel dat tot sy skoonsus se ontsteltenis haar babaseuntjie se eerste woord nie Mum or Dada was nie, maar tractor. 'n Plaaskind, duidelik.
    Die trekkers vat my terug na my kinderjare en skielik verlang ek na my broer. En toe ons terug is in SA het ek darem 'n paar lekker stappies saam met hom kon doen, en gesels oor alles en nog wat – in 'n soort mini-Camino van ons eie in die verlede in. Nie elke reis loop vorentoe op die grond of in tyd nie.
    Ek steel almal se stories om later vir ander te vertel.
    (Ons het net tyd gehad vir nege dae se stap - 180km - maar as ek twee weke of meer gehad het sou ek by Porto of selfs Lissabon begin stap het. Portugal is deel van ons geskiedenis - Dias, Da Gama, Magellaan en talle ander – en verdien 'n veel langer besoek.)

  • Sjoe Chrizane, I really enjoyed reading this. 🙂 I would love to go do that. Can you tell me more? #theportugueseone

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top