Sommige van hulle is swart en staan buite in wind en weer. Klip op die deksel teen die kuswinde wat van alle kante af tier. Hulle pense word hardhandig gevul met die sakke van die kombuisdromme, wat op hulle beurt weer sanitêr-ordelik in groot laaie in kombuiskaste weggesteek word. Ander is van prentjiemooi blik, geroeste draad, plastiek of hout gemaak een staan in werkkamers en kinderkamers. In slaapkamers vind jy hulle meestal in spierwit gevlegte rottang met lapvoerinkies in neutrale kleure en as hulle erg gelukkig is, met ‘n syblom teen die kant vasgeplak.
Dis egter nie net op die huishoudelike front waar hierdie nederige hol goed onontbeerlik is nie. Elke kampeerplek het dit; hulle staan soldate in winkelsentrums en op sypaadjies. En dit is juis hier waar hulle meer uitnodigend bont en verbruikersvriendelik vrolik moet wees, maar inteendeel is hulle bruin droggies van een of ander poli-produk sodat hulle weer-bestand sal wees en saamsmelt met die omgewing.
Daar is egter ‘n ander soort vullishouer wat al hoe meer momentum kry in ons nuwe Suid-Afrika, binne die Staatsdiens, privaassektor en semi-staat milieu. Oral. Natuurlik wil hulle dit nie aan die groot klok hang nie, maar tog huiwer amptenare ook nie om dit as verskoning te gebruik wanneer hulle in ‘n hoek gedryf word oor gebrek aan dienslewering nie.
‘n Vriendin vertel hoe sy na haar man se dood moes sukkel omdat hulle mediese fonds summier gekanselleer is, terwyl daar ‘n respyt-tyd van drie maande moes verloop ten einde vir haar as afhanklike kans te gee om weer aansoek te doen. Na eindelose telefoon oproepe – en almal weet watter nagmerrie dit deesdae is – e-posse, fakse en posstukke, kry sy uiteindelik ‘n direkte telefoonnommer van ‘n direkteur. Nadat sy vir die soveelste keer die situasie verduidelik het, besluit sy om ‘n paar terme, artikels en nommers van vorms in die gesprek te gooi.
Aan die ander kant van die lyn volg daar ‘n ongemaklike stilte. “Mev. X, is jy daar?” vra sy. “Ja, mevrou” antwoord die direkteur met ‘n dunnerige stemmetjie en op aanvraag verduidelik Vriendin dat sy vir die afgelope vyf-en-dertig jaar met hierdie dinge gewerk het. “Kan Mevrou nie inkom hier na ons toe nie?” Nee, sê Vriendin, Pretoria toe gaan sy nie vir ‘n papier of twee nie. “In daardie geval moet Mevrou dan asseblief ‘n geregistreerde brief aan my persoonlik stuur, want ons gooi onmiddellik alle fakse en e-posse weg.”
Dis toe dat ek haar van ‘n ander maatjie se storie vertel. Dié het maande gesukkel om ‘n respons te kry oor die indiening van haar vergoedings-eis. Uiteindelik ook ‘n persoon se naam en direkte telefoonnommer gekry om te kontak. “Mevrou, jy verstaan nie hoe dit hier gaan nie” kom dit van anderkant die telefoonlyn. “Nee, ek verstaan niks, maar as jy my nou vertel hoe dit gaan, kan ek dalk verstaan.” “Mevrou sien, ons het ‘n groot boks waarin ons al die posstukke gooi, want ons het nie genoeg personeel nie. Kan Mevrou nie inkom hier na ons toe nie?” Afgesien daarvan dat Vriendin toe pas onder die mes uitgekom het en dit genoem het, het sy haar prentjie verder ingekleur: “As jy weet hoe kort ek is en soos wat jy nou die grootte van julle boks aan my verduidelik, is daar nie ‘n manier dat ek onder in daai boks gaan bykom om my eie posstuk daar uit te grawe nie.”
‘n Kennis vertel hoe sy aansoeke vir haar kind na ‘n ander staatsdepartement gestuur het en na hoevele navrae, ook met die versoek om “in te kom” en in die ry te gaan staan, agter die ware kap van die byl gekom het. Daar is een spesifieke posbus binne die Kaapse gebou, met die trappe op, waar hierdie soort aansoeke gedeponeer moet word; nie een van die posbusse buitekant die gebou nie. Enige pos wat in die verkeerde posbus beland word net eenvoudig in die vullisdrom gegooi.
Blykbaar is die destydse posdepartemente, -sorteerders en –bodes in groot maatskappye en die staatsdiens nou uitfaseer – en ook maar goed so. Maar vervang met vullishouers en papierkerwers? Gee joune dus maar ‘n blom, net vir status.
Suikerbrood en suurvye

