Vry!

  • 1

Foto: www.tes.com

 

Hy lyk verward. Asof hy werklik nie weet waar hy is nie. Die skeloranje oorpak hang sakkerig om sy maer skouers. Sy yl grys hare is teen sy kopvel vasgekam. Dit kort ‘n sny en ‘n was. ‘n Daeoue stoppelbaard groei soos koue as op sy uitgeholde wange.

 “Dankie,” vorm sy lippe onhoorbaar die woord. Die bewaarder knik sy kop en gaan staan handegevou langs die deur teen die muur.

My hart klop suur in my keel. Ek wil die stoel agteruit skop en weghardloop. Na Carine toe wat buite in die motor wag. Liewe, geduldige Carine wat my altyd sal liefhê.

Hy skuifel-skuifel nader. Ek is seker daar is ‘n ketting en slot om sy enkels, net soos om sy gewrigte. Hoe futiel tog! Hy is tagtig jaar oud. Vir wie die bedreiging?

Hy het my nog nie raakgesien nie. Miskien weerkaats die glas tussen ons. My handpalms is natgesweet. Ek vee dit aan my jeans af. Vryf, vryf. Dit maak geen verskil. My selfoon staan ‘n knop in my broeksak. Hoekom moes ek dit nie ingee nie? "Geen selfone toegelaat," staan tog duidelik op die voorskrifte teen die muur. Ironies dat hý waarskynlik nog nooit ‘n selfoon hanteer het nie.

Werktuiglik trek ek my moue af tot oor my polsgewrigte. Ek wil nie hê hy moet die littekens sien nie. Drie, vier keer het die lem gesny, maar Carine het my deurgetrek. Op pad na die hospitaal het sy oor en oor vir my geskreeu dat ek haar drop.

“Jy is ‘n lafaard! Ek is aan jou kant! Ek is lief vir jou!” het haar woorde deur die heerlike waas van die komende bevryding na my aangesweef. “Besef jy nie hoeveel ons vir jou opgeoffer het nie … Hang on!” Ek hét gehang en … hier sit ek. Die littekens van die stryd is hoër op teen my arms, selfs op my voete. Veilig weggesteek. Die etterende prikmerke het genees; die drangwond is nog oop en swerend.

Sy geboeide hande reik saam na die stoel se leuning. Hy tas bewend mis. Sy oë is op my. Sal hy weet wie ek is? Sy oë is dieselfde blou, nog blouer as die lug. Daar makeer iets: die helder skyn van herken. Sy voorkop frommel in ‘n vraagteken: Wie is jy?

Ek is die rede waarom jy hier is, wil ek dit uitskreeu. Die een vir wie jy dit alles prysgegee het. Wat jou soos ‘n Petrus in jou donkerste uur verloën het. Maar God weet: Ek het nie vergeet nie …

Hy trek die stoel onhandig uit en gaan sit. Dit is soos ‘n stilfilm wat voor my afspeel. Beweging sonder klank. Hy kyk na die interkomfoon langs hom teen die muur. ‘n Identiese een is aan my kant. Nie een van ons tel dit op nie. Sy oë is op skrefies as hy weer na my kyk. Miskien kan hy net nie meer goed sien nie. Dit maak sin, gegewe sy ouderdom.

Hoe het hy hier binne oorleef? Waarmee kon hy homself besig hou? En sy medegevangenes? Ek ril onwillekeurig. Daar is soveel vrae. Hy was maar net ‘n gewone man. Todat …

Ek haak die spreekstuk van die muur. Wag dat hy dieselfde doen. Hy huiwer. Hy kyk om na die bewaarder en hou sy geboeide hande omhoog. Sluit tog los, asseblief. Die bewaarder skud sy kop. Nee, sê sy uitdrukkinglose gesig. Geen kanse word met ‘n moordenaar gevat nie. My maag trek op ‘n knop. Moordenaar.

Die staatsadvokaat was genadeloos. Die jong advokaat vir die verdediging onbeholpe en heeltemal te onervare vir dit waarmee hy gekonfronteer was.

 “Meneer Malan, het jy aan die beskuldigde verduidelik wat die implikasie daarvan kan wees indien hy volhard om sy swygreg te gebruik?” Na al die jare weerklink die regter se stem steeds in my kop. “Ja, u Edele,” het die advokaat gesê en moedeloos sy kop in sy hande laat sak.

In sy slotbetoog het die staatsadvokaat weer pynlik presies die bewyse uiteengesit. Metodies en onweerlegbaar het hy die skrif aan die muur geskryf. Verdoemend. Die beskuldigde is ‘n moordenaar, gewetenloos en duidelik sonder berou, het dit dramaties deur die volgepakte hofsaal weergalm. Die één vraag kon hy egter nie beantwoord nie: Hoekom? Waarom het hy dit gedoen? Die een boksie in sy aftiklysie was leeg. Motief. En ek het stilgebly.

Ek sit met die spreekstuk in my hand, verlig dat ek hom nog nie hoef aan te spreek nie. Hy kyk weer stip na my. Sy oë hou my gevange. Verbeel ek my of is iets besig om in sy blik te groei? Miskien is iets aan my bekend?

Fier en regop het hy in die beskuldigdebank gesit. Soos ‘n marmerstandbeeld die staatsadvokaat se felste aantygings kalm en sonder emosie aangehoor. Sy ou swart kerkpak met die blink elmboë was dag vir dag kreukelvry as hy uit die selle na die beskuldigdebank begelei is. Sy oë het my dan opgesoek en ek het geweet hy sou bly wees om my te sien. Asof hy krag kon put uit my teenwoordigheid.

Hy sê weer iets vir die bewaarder. Onverwags breek ‘n glimlag wit deur op die swart man se gesig as hy terug antwoord. ‘n Onhoorbare dialoog vind ‘n minuut lank tussen die twee wesens aan die ander kant van die koeëlvaste glas plaas. Die bewaarder se maag skud van die lag. Dan verlaat hy sy pos en kom haak die spreekstuk van die muur af en sit dit in die geboeide hande. Sy hand rus vir ‘n oomblik bemoedigend op die maer skouer. ‘n Onwaarskynlike broederskap. Hy neem weer sy pos langs die deur in, gesig strak soos voorheen, asof die oomblik van warmte nooit gebeur het nie.

My arms begin jeuk. Die reeds geneesde prikmerke kry ‘n lewe van hul eie. Bring weer die naald! Steek hom in waar daar nog ‘n ongeskonde stukkie vlees is. En vergeet van alles … vergeet van hierdie ou man wie se bestaan ek vir dekades ontken het. Vergeet van al die pyn. Vee die herinneringe wat vandag so vlak lê met die naald uit. Ek probeer sluk maar my keel is hortend droog. Ek vou my arms pynlik styf voor my bors. My baadjie knyp seer in die buiging van my arms. Hou op jeuk! Ek is kláár! Ek gaan nie weer daar nie … nooit weer nie. Ag Vader, hoekom het ek nie vir Carine saam ingebring nie. Sy wóú saamkom,  maar ek het gesê: “Nee, ek moet dit alleen face. Ek is dit aan hom verskuldig.” My hand tas na my broeksak. Miskien kan ek haar SMS. Haar vra om alles namens my te kom uitsorteer. Deal hiermee, Carine. Die lewe skuld my … ek is ‘n slagoffer van die lewe. Ék hoef met niks te deal nie.

Ek skrik as ek sien dat hy die spreekstuk teen sy oor hou. In ander omstandighede sou dit pervers komieklik lyk. Die twee ou hande lomp saamgevou om die stuk harde plastiek. Ek ruk my spreekstuk tot teen my oor. Dit voel vaagweg bekend, herinner aan ‘n era voor selfone. Ek kan sy asemhaling hoor. Ek voel skielik naar. Carine … help. Die eerste keer in dertig jaar haal hy weer asem. Vir ‘n vlietende mal oomblik voel ek soos Jesus: ek het hom opgewek uit die dood! Halleluja!

 “Hallo, Pa.” Die twee woorde kom skor oor my lippe. Hy kyk my steeds vraend aan, sy oë soekend oor my gesig. Het hy my gehoor? My hart ruk in my bors. Alles is besig om terug te stroom. Twee woorde het ‘n damwal laat breek. Die gehoorstuk gly amper uit my natgeswete hand.

Hy het my skool toe gevat op my eerste skooldag. Hand aan hand het ons die paadjie gestap na die klaskamer. Hy het my karton skooltassie gedra. Behalwe vir ‘n appelkooskonfytbroodjie was daar verder niks in die tassie nie. Ek het vir hom gesê dat dit nogal snaaks lyk in sy groot beerhand.

“Oooeee! En díe spierwitte hare?” het die graad een-juffrou gekoer.

 “Ma se kind,” het hy ongemaklik gesê. Verder kan ek niks onthou nie.

Ek het my ma nooit gemis nie want ek het haar nooit geken nie. Sy is dood toe ek twee jaar oud was. Sy was ‘n mooi vrou te oordeel aan die foto op sy bedkassie. Hy het nooit oor haar gepraat nie en ek het later nie meer gevra nie. Hy was pa én ma in die huis. Gewerk, gekook, gespeel en opgevoed.           

Ek maak my oë toe. Ek wil nie vir hom kyk nie. Ek wil hom die verleentheid spaar. Wie se verleentheid weet ek nie. My eie? Sy asemhaling is steeds hoorbaar. Rustig, soos iemand wat slaap. Hoekom sê hy nie iets nie? Het hy sy stem werklik verloor sedert die hofsaak? Hoe het ek hom nie gewil om te praat in daardie vervloekte hofsaal nie. Pa, staan op en skreeu dit uit! Vertel vir hierdie witgepleisterde grafte hoekom jy dit gedoen het! Of bly stil en spaar my die vernedering …

Die staatsadvokaat het die slagoffer opgehemel. Schalk Matthee was ‘n voorbeeldige, godvresende jongboer uit die distrik. Die appel van sy bejaarde ouers se oog. ‘n Toekomstige pilaar in die gemeenskap! Ek het uitgehardloop en in die gang opgegooi.

Tydens vonnisoplegging het hy steeds geswyg. Die staat het gepleit dat die doodstraf die enigste gepaste vonnis sou wees, het dit nog bestaan. Die maniak moet permanent uit die samelewing verwyder word. Die gemeenskap soek vergelding. Af met sy kop! Lewenslank was die kop wat op die skinkbord hulle aangebied was. Sonder die vergunning om ooit vir parool in ag geneem te word. Die hofgangers het ‘n sug van verligting geslaak. Satan is uit hul midde verwyder. Die geliefdes van die slagoffer kon ‘n mate van afsluiting vind.  Die Department van Welsyn het toe my ouer geword. Niemand het belanggestel om die kind van ‘n moordenaar in te neem nie. My vonnis het ook begin.

Ek maak my oë oop. Hy sit vooroor gebuig, sy blik nou afwaarts gerig asof na iets op sy skoot. Die spreekstuk is steeds teen sy oor. Sy maer skouers ruk.

“Daar’s ‘n joppie by die hotel,” het hy my die dag vertel. “Ou Klaas sê Abel is nou so oud hy breek ál die glase.” So het ek in die aande glase gaan was by die Royal.  Die betaling was min, maar ek het uit die hotelkombuis geëet. Stiptelik, elke aand om tien het ek die laaste glase weggepak, vir oom Klaas in die kroeg koebaai geskree en huis toe geskarnier. Vir die eerste keer in my lewe het ek ‘n bankrekening gehad waarin ek weekliks my loon gaan betaal het. Die lewe was goed. Tot die bitter koue nag van 13 Julie toe Schalk Matthee my voor die kroeg ingewag het. Toe het alles verander …

Die mure omklem my. Ek voel weer naar. Hy het daardie nag ook so vooroorgebuig gesit en geluidloos gesnik. Dit was net sy skouers, toe nog breed en sterk, wat geruk het. Soos nou.

“Hoekom het hy dit aan my gedoen, Pa?!” Ek het die vraag uitgegil, waansinnig van die pyn en  vernedering. “Omdat ek … anders is? Pa het dan gesê dis oukei … Pa sal my beskerm …?” Hy het uiteindelik opgekyk. Hy was nie meer dieselfde nie. Óns was nie meer dieselfde nie. Ek kon hom nie vergewe nie al het ek geweet hy dra geen skuld nie.  Hý moes my beskerm, hý het gesê dis oukei om anders te wees. ‘n Jong skurk het nie met hom saamgestem nie. ‘n Jaar later het Schalk Matthee skielik verdwyn. Op 13 Julie. Sy lyk is dae later deur veewagtertjies ontdek.

 “Pa?”

Hy kyk op. Trane trek strepe teen sy geplooide gesig af. Hy probeer dit afvee met sy twee hande, maar gee moed op en hou weer die spreekstuk teen sy oor. Sy kop bewe en die trane stroom nou vryelik teen sy wange af.  Die bewaarder het sy kop respekvol weggedraai en staar na die muur langs hom.

“Ek is jammer, Pa.” Ek worstel met die woorde. “Pa wás reg. Dit ís oukei om anders te wees.”

Ek skrik as hy die gehoorstuk laat val en sy stoel agteruitstoot. Hy haat my. Ek moes nie gekom het nie. Die bewaarder staan bedag. Ek haak my gehoorstuk terug teen die muur. Dit is verby.

Dan buk hy vooroor en druk sy handpalms teen die venster tussen ons. Ek twyfel ‘n oomblik, maar druk dan my hande teen syne. Deur die ondeurdringbare koue glas voel ek weer sy warmte, vloei ons na mekaar toe soos so baie jare gelede.  Sy lippe vorm woorde wat ek nie kan hoor nie maar wat binne my siel resoneer: “Ek is lief vir jou, my dogterkind …”

Die son steek helder agter ‘n donker wolk uit as ek uitstap. Dit brand heerlik op my gesig. Dit het gereën. Stoom trek uit die teerblad en die lug ruik vars. Dit is intens blou tussen die grou wolke.  Carine kom regop waar sy teen die motor leun en skiet ‘n sigaretstompie in ‘n poel water. “Ek is vry!” wil ek vir haar skreeu, maar die enigste geluid wat ek maak is ‘n rou snik wat pynlik uit my bors losruk. Ek huil. Vir die eerste keer in soveel jare. Onbevange, ekstaties en … bevrydend!

  • 1

Kommentaar

  • Elsabe Bester

    Die skrywer slaag daarin om die leser met slim woordspeling en diep insig in die onderwerp van die begin af te boei en die pyn self te laat ervaar.Die ontknoping belig die titel en die leser kan deel in die bevryding van die karakter. Die tema van reg teenoor onreg, skuld teenoor onskuld, bly in die gedagtes van die leser draal, lank nadat die verhaal gelees is. Geslaagd.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top