
Foto: Canva
Vry
’n Voël se vryheid is iets om te bewonder. Selfs hul eie kuikentjies hou hulle nie terug nie. Was dit maar ek gewees, maar my lot is nie te verander of ontsnap nie.
“Maaaaaa!”
Is dit verkeerd om daardie woord te haat? Selfs te droom oor die dag wat daardie mond vir altyd stil sal wees? “Ek is in die kombuis, Christiaan.” Vir ander lyk hy dalk normaal, maar net ek weet die bittere waarheid.
“Waar is ouma? Ek wil vir haar lees!”
Ek kyk na die blou-oog seuntjie voor my met ’n mate van vrees, afsku en liefde. “Ouma het bietjie gaan kuier vir die naweek. Sy sal eers vanaand weer terug wees.”
Ek staal myself vir wat kom.
“Nee, nee, nee! Sy moet hier wees!” Met elke woord stamp hy sy voete, skuim wat by sy mond uitkom.
Ek kan net bid dat sy vloermoer nie vererger nie. “Seun, ek is jammer, maar voor jy weet, kan jy vir ouma lees. Sy geniet dit tog so.”
“Moenie met my praat nie! Jy maak my naar!” Daarmee storm hy by die kombuis uit.
Trane van magteloosheid stroom oor my wange. Hoe wens ek nie Pieter het nog geleef nie. Hy sou my minstens net kon help. Ek sou nie so eensaam gewees het nie.
“Wat het ek gedoen om dit te verdien? Waarom ’n wonderlike mens van my wegneem en my los met die monster van ’n seun?” Die woorde eggo deur die kombuis. Natuurlik antwoord niemand my nie. God het my sewe jaar terug verlaat. En nou deel ek my lewe met iemand wat die dop van sy pa dra en die binnekant van die duiwel het.
Hoeveel gaan ek nog moet verduur? Die mense op die dorp glo hy is vervloek. Dalk is hulle reg. Watter ander seun sal ’n rot slag en in sy ma se bed los bloot omdat hy nie sy sin kon kry nie? Die enigste persoon wat hy nie treiter nie, is sy ouma. Waarom weet ek nie. Die kere dat hy vir haar lees laat my dink hy kan dalk net menslik wees. Maar dan wys hy sy duiwelskant en verwoes enige hoop.
Hy gaan nie verder my lewe of enigiemand anders s’n verwoes nie. Ek staan op en begin die kos voorberei vir vanaand. Terwyl ek die groente kap, hoor ek hom lag, die hoenders wat verskrik van hom probeer wegkom. “Toemaar, my seun, nie meer lank nie.”
Net toe ek die tafel klaar gedek het, klap die kombuisdeur toe. Daar is modder en iets wat lyk na droë bloed op sy broek. Sy glimlag is soos dié van ’n engel.
“Gaan was gou jou hande en dan kom eet jy.” Ek stuur ’n skietgebedjie op.
Wanneer hy terugkom, gaffel hy hongerig sy kos in. Vir ’n oomblik kyk hy verbaas na my. “Ma?”
Die donker omvou ons albei. Hy bly my kind. Waar hy gaan, daar sal ek hom volg. Pieter strek sy hand na my uit. Vir sewe jaar smag ek na sy nabyheid. Vandag kry ek dit eindelik na soveel trane.
Kommentaar
Net 'n vrou met 'n moerderhart - laat my weereens besef hoe kosbaar elke moeder is. Dit is teer, Elizna, baie teer - dankie!