Vrouedag-skryfkompetisie: Veronika

  • 0

Haar bloed is 20% swart tee
en gelyk opgedeel
tussen Duitsland, Rusland, Pole,
Namibië en Namakwaland.

Op Saterdae is daar verfstrepe oor haar wang,
haar hande grou in brak grond,
snoei die dooie blare in haar Eden
en plant nog ’n malva.

Sy kan nie boer nie.
Hoenders, bokke, skape, olyfbome, selfs Australiese emoes –
dan plant sy stukkende turksvyblare
en ’n woud groei in ons agterplaas –
in somers is alles gedrenk in soet turksvystroop.

Die Dood het haar van jongs af kom groet,
vir haar gewaarsku van die duwweltjies waardeur sy sal loop.
Sy het haar pa se oë geërf.
Haar elfjarige vingers het steeds
lekkers vir straatkinders uitgedeel
en haar sussies se hare getrek,
sy het steeds A’s gekry
en trompoppie gespeel by rugby.
Sy het nog steeds gebid
en die Here het haar in sy palms gedra.

Daar is te veel flitse
van haar lewe –
goed en sleg –
waar sy stry baklei
of stil terugstaan (hoewel die kere min is)
waar sy lag en huil
waar haar naels donker is met houtskool
of sy pamflette uitdeel
of voor ’n swartpot kos maak.
Waar die sonlig haar net so tref
en alles goud is.

Om te oorleef het sy nooit geleer stilstaan –
sy huisves vreemdelinge en voed hulle,
sy speel toergids,
bloemis,
enetrepeneur,
kok,
onderwyser,
raadslid,
parlementslid,
dogter,
suster,
vrou,
ma.

Sy het met ons Duits gepraat toe ons klein was,
die taal van haar pa wat sy steeds saamdra.
Soms eggo Duitse kore deur die plaashuis se gange
en sy laat my toe in haar verlede,
maar die liedjie is altyd te kort
vir die volle verhaal.

Iewers onthou ek hoe hulle wals,
my ma in my pa se arms,
’n glas rooiwyn op die tafel, die vuur wat knetter,
die koerduifies wat roep in die laatnag van Namakwaland
op een van haar afnaweke
waar sy kilometers ver ry vir die groendak baksteenhuis
wat lê op ’n rooikleipad,
met die houtskerm,
en ons voetspore lank terug vasgevang in nat sement
van die stoep
waar sy nou nog dans.

En dan word alles weer goud.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top