ek onthou die huis met sy duiwelsdak
die spens was ’n bedekte seën,
jou heelwordplek, jou asemskepplek, jou wegkruipplek
jy’t ons laat glo dat grootmense soms tok-tokkie speel
(éintlik het die ooms vir skuld aan ons deure geklop)
ter wille van ons
het jy telkemale ons tassies gepak
buurvrou aan die ander kant, reg om ons te vang
(jy’t altyd gemaak of ons wegkruipertjie speel)
bang het bollemakiesie oor jou gesig geslaan
(die Thunderbird se dreuning kon jy van ver af hoor)
holderstebolder terughardloop, tasse agter die deur
jy het gewéét, more sou jy weer die donkerbril dra
(pers was nog altyd vir my die lelikste kleur
omdat ek nie kan onthou om te vergeet)
eendag, sommersó
het jy die baksteenhuis vir die laaste keer gegroet,
die pokerface masker en ’n handvol sout agter jou gegooi
ter wille van ons, ek glo óók ter wille van jouself



Kommentaar
Waar woorde van nog 'n stukkende mens.
Die waar woorde uit my dogter se pen.
Herinninge uit verlede maar onthou so goed want ek is deel van die gedig Mama Raaf.
Dankie Mamma, Mamma ís vers xx
Dankie Mamma, Mamma ís my vers xx
Knap saamgevat, Melody: ek síén jou skryf, en hóór wat jy sê. Baie geluk!
Diep seerkry woorde, kort saamgevat en goed opgesom maar wat n duisend emosies, herhinneringe en verhale vertel. Wow! Well done Melody, dankie dat jy met jou woorde, ons elkeen se verhaal kan vertel.
Baie dankie tannie Marie!
Baie dankie Claudy!