Vrouedag-skryfkompetisie: Teistering

  • 0

Die bergies wat kom groet, rol hulle oë toe hulle hoor van die boetes. Liewe hemel, wat is volgende? Honde word in vrede gelaat op die sypaadjies, maar nie hawelose mense nie.

Anyway, sy het groter worries. Soos haar klomp nuwe, aggressiewe bure. Hulle gaan haar mal maak hier onder die brug.

Niemand gaan haar uit háár slaapplek boender nie. Laat hulle moerland toe vlieg. Sy sal hulle nie hulle sin gee nie. Al kan sy sien hulle soek bloed.

Dankie tog sy kan daar wees vir haar kinders. Sy wou vroeër gaan bene rek het, maar is bly sy het dit toe nie gedoen nie. Hierdie maniakke sou haar kinders sleg verniel het.

“Julle donners, julle wetters, los my uit,” praat sy met hulle toe hulle dreigend naderkom. Satansgebroedsels. Maaifoedies.

Haar kinders kerm. “Toemaar, my ou seuntjies, toemaar. Kalmeer. Ma sal sorg dat julle veilig en beskut bly.” Flippit. Sy’t lank na hierdie skuiling gesoek. Ook lang ure saam met die kinders se pa geswoeg om dit leefbaar te kry.

En nou dit.

As sy net haar lyf so kan draai dat die spul haar twee spruite nie kan bykom nie. Laat sý maar liewers die houe vat.

Die moordlustigheid straal uit hulle oë. En dis nie asof daar nie vir húlle ook plek onder die brug is nie. Maar nee, lyk of hulle wil oorneem. Wil seker alleenreg hê om te kan maak en breek soos hulle wil. Vir ’n oomblik twyfel sy. Moet sy nie maar terug sypaadjies toe nie? Sy skud haar kop. Nee, sy bly net hier.

Sy’s dankbaar sy is darem nie meer so maer en swak soos ’n ruk terug nie. Dit net omdat sy die laaste paar weke by die restaurante rondom Buitenkantstraat geboer het. Hulle gooi vreeslik baie kos weg. Goeie kos. Sy het behoorlik weggelê en haar lyf wys dit.

Sy koes vir nog ’n oorveeg. Sy moet hulp kry. Dringend. Sy dink. Sê nou net die kinders se pa is oudergewoonte net hier om die draai by die tjipswinkel? Sy trek haar asem in en begin om hom te roep. So hard as wat sy kan. Terwyl sy so tussenin bid dat hy tog net daar is en haar sal kan hoor.

Uit die hoek van haar oog sien sy hom aankom. Sy koer dankbaar. Toe haar forse held hom tuismaak op die stuk betonbalk langs haar, sprei sy haar vlerke wyer oor haar donserige kleingoed. Nes hy, maak sy óók toe haar nek langer en pof haar gespikkelde duifvere op.

Haar hele houding sê: Blerrie tiptolle, laat ons nóú sien wat julle gaan doen, julle lafaards.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top