Vrouedag-skryfkompetisie: Siener

  • 0

Deesdae dra ek dikwels
vir naderkyk my ma se bril,
vir fynskrif of die naald se oog,
’n foto in die halflig,

en sién:

die ylgroen oggendlig vibreer
van vlerke en kwashaal en kleur,
’n landskap van klippe luister,

die reis begin –
met skimmige metgeselle vaar
’n boot ’n nuwe mite in,

’n ouroboros byt sy stert en singel om
’n kind, ’n leeu, goudvisse wat vlerkvat,

stilte dryf soos water om ’n lotusblom.

Beelde skuif oormekaar en skilder
’n nuwe werklikheid
en orals is oë –
goëlaars en dansers en diere
hou blind of geblinddoek alles dop,
soos Sint Lucia hou ’n siener
sy vertakte kykers vas
en visioene glinster waar eens sy oë was
en alles gloei
en niks is meer bedek.

Deesdae dra ek dikwels
my ma se bril en wéét –
sy kon altyd beter sien as ek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top