Vrouedag-skryfkompetisie: Paultjie

  • 3

Jy het skugter onder ou Bettie se af vlerk uitgekruip daardie oggend, baie Oktobers terug. Bettie het haar selfontslag toegeskryf aan oudwees – iewers tussen tagtig en opgeleef. Sy het my gerus gestel dat sy klaar vir jou verduidelik het wat die beskrywing van jou job gaan wees – “skoon polish en agter die kinders kyk terwyl Madam teach”.  Liewe ou Bettie, steeds aan’t planne maak, opdragte uitblaf en seker maak dat almal sorg het voordat sy vir oulaas haar eie sonkol sou gaan soek.

Stadigaan het jy sag in ons harte ingestap. My oudste se stil  kwaaibaba-kyk het saam met die botter oor die krummelpap gesmelt en op ander dae sou julle twee vir ure lank diertjies rol uit oorbly stywepap. En vir my kleinste sou jy dag na dag elke liewe pot en pan uitpak en die kakofonie van daardie blikorkes verdra en selfs saam sing. My kinders onthou steeds hoe julle smiddae klokslag vieruur op die sypaadjie gestaan en wag het vir die bus wat jou ouboet bestuur het, om verby te kom. Elke middag is daar getoet en gewaai asof weke gelede laas gesien.

En ek en jy – onthou jy ook die middag in die mall toe ons draairoomys in die hand, van winkel tot winkel gedrentel het? Ons het vir jou ’n pienk hemp by Foschini gekoop en vir my ’n romp. En onthou jy daardie kuier by  Bloemskou, vir jou ’n eerste, soos ook die spookasem en die cream soda float?

Wanneer jy Maandagoggende sing-sing om die hoek van die huis kom, het die week vir ons op ligter noot begin. Almal was bly om jou te sien. Die dag toe ons oudste skool toe is, het jy harder gehuil as ek en vir die jongste ook ’n tas in die hand gestop om haar groot te laat voel. Waar het jy al hierdie wyshede van die lewe geleer, Paultjie?

Na vyf jaar saam het ons oor die see getrek. Om jou te groet, was ver by seer verby. Die foonoproepe was ’n troos en jy het elke keer met die groetslag elkeen, tot die hond, by die naam genoem en gevra dat ek jou liefde sal oordra. Om jou te kon sien wanneer ek vir ’n kuier kom, was ’n fees vol foto’s en vertel.

Ek onthou ons laaste kuier saam. Ek het vir jou gewag by die bushalte voor die Spar en toe, oor ’n  Wimpy-melkskommel  kon ek my leeghuil en troos kry by jou oor my pa vir wie ek moes groet.

Vier jaar gelede het ons jou weer gebel. Vir die eerste keer in vyftien jaar was jou foon onverklaarbaar stil en het ek sedertdien nog nie weer jou stem gehoor nie.

Ek wens jy weet dat ek terug is in ons dorp. Ek weet jy sal bly wees saam met my. En ek wens dat jy weet hoe ek na jou soek.  Soms is ek bang ek vind jou in die skaduwee, maar dan sal ek jou ophelp en sal ons twee saam ’n sonkol loop soek, want jy Paulina, verdien net lig.

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top