Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 1

Pyne kom nou korter op mekaar. Die eersteling kom twee weke te vroeg. Die Kammanassierivier lê onbegaanbaar in wrede wintervloed, honderd treë breed, vol branderskuimkolke. Dis middernag, middel-Julie. Die vroedvrou woon twee myl anderkant. Pa help Ma op Bles, wydsbeen. "Moenie bang wees nie." Rivier in, Pa bokant haar op sy sterk hings om opdrifsels te keer, hanteer al die teuels. Dit raak gou so diep dat die perde moet swem, net koppe bo die water. Die beurende yswater omsluit die ruiters, klots teen haar borste. Redeloos bevrees klou haar gevoellose hande onder die water aan die saal. Halfpad deur breek haar water, kortstondig vaagwarm. Ewigheid sleur in die watergeraas dinkloos verby. Die perdepote raak grond. In die stormlanternlig tel Pa haar deurnat, verkluim op die wagtende perdekar. Dan die perdekarjaagtog kraamhuis toe. ’n Halfuur later stoot sy my die lewe in. My dapper ma. Ek sal Ma nooit vergeet nie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top