Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 0

Met jeugdige krag steek sy die graaf in die grond. Sy vroetel met haar hand in die grond en glimlag. Die saligheid op haar gesig laat haar soos ’n engel lyk. 

Ek kan sien sy's lief vir die grond. Ek stap nader en bekyk haar pragtige tuin. "Dis amaryllis en daardie is asaleas," beduie sy trots. Die sonlig op haar gesig laat die fyn plooie soos goue draadjies vertoon. Dis nou al ’n paar dae dat ek haar gewerskaf so bekyk. Vroegoggend is sy al besig en sy hou eers op wanneer die son al gaan sak het. Ek wonder of sy ooit moeg word – nege-en-sewentig is ook nie meer so jonk nie. Werklik ’n impossante vrou.

"Wag, laat ek gou  ’n teetjie gaan drink,” val dit haar by. Die draadloos word aangeskakel op RSG, en haar pen en boek word nader getrek. Haar ogies is op skrefies getrek en haar kop effe gekantel soos sy elke kriesseltjie inligting opslurp. Die pen in haar hand gly blitsvinnig oor die papier. As daar een iets is wat ek graag van haar wil erf, is dit daai boek! Jare en jare se inligting is daarin neergepen. Ek besef dat ek voor ’n professor staan wat nooit tot haar volle reg gekom het nie.

"Wag, laat ek gou die modelle se klere vir jou wys." Ek volg haar na haar kamer. Rye, rye kledingstukke hang teen die mure en kaste. Dis soos iets uit ’n movie. "Dis als uit die sixties," kondig Her Majesty aan. O, daai  hoede! Party lyk soos aeroplanes. Queen Elizabeth sou haar vergaap het aan die weelde.

"Ma, Ma moet dit rustiger vat.” Sy knik geheimsinnig en ek weet sy's besig om haar volgende projek te beplan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top