Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 0

Die mis lê dik oor die melkhoutbome in die Suid-Kaapse woonbuurt Melkhoutfontein in die kusdorpie Stilbaai. Dit is in die hartjie van die winter en dit is presies een week gelede dat die inwoners van ‘Melkies’ ’n groot gees onder hulle gegroet het. Iemand wat haar dekades gelede hier kom vestig het. Hierdie vrou is Elizabeth Kortjé, beter bekend as ‘Bettie’ of sommer net Juffrou. ‘Mam’ vir haar kinders en Ouma vir haar kleinkinders.

Bettie was ’n boorling van Ceres en het op skool reeds besluit dat sy onderwys wil studeer. Soos met alles wat sy in haar leeftyd aangepak het, het sy ’n sukses van haar studies gemaak en haar as onderwyser bekwaam. Die soeke na ’n onderwyspos het haar geneem na Melkhoutfontein. Dit was hier waar honderde leerders deur haar hande is in ’n loopbaan van meer as 40 jaar. Tydens haar aftreejare het sy gereeld gesê, “Wanneer ek in die bus klim en daar word nie terug gegroet nie sê ek sommer hard ‘Môre, môre môre!’” Die pasassiers op die bus was geneig om op hierdie woorde te antwoord, “Ons is lankal klaar met skool”. Wanneer Bettie hierdie staaltjie met haar kinders en kleinkinders gedeel het, het sy altyd gesê, “Ag en ek wil hulle nog so graag leer”. Onderwys was haar groot passie, selfs na sy die tuig neergelê het.

Dit is vandag ’n baie hartseer dag vir haar hele familie en die breë gemeenskap van Melkhoutfontein, om finaal afskeid van hierdie formidabele vrou, wat vir soveel jare ’n lig in hul lewens was, te neem. Vriende en kennisse van haar het van heinde en ver gekom om hul laaste eer te betoon. Haar eenvoudige huisie op die kerkgrond is stampvol. Haar buurman, wat haar ook oor die jare Ouma begin noem het, behartig die huisdiens en hy deel almal mee hoe ’n meningsverskil in die kerk daartoe gelei het dat hy jare gelede sy rug op die kerk gedraai het. Hy het vir dae nie die moed gehad om na die diens toe te gaan nie. Een Sondagmiddag kom Bettie aangestap na sy huis toe en klop aan die deur. Bettie het met ’n baie streng stem vir hom laat verstaan dat sy vandag met kom praat namens sy biologiese ouma, wat reeds gesterf het. Sy ouma, was eers Bettie se buurvrou. Bettie het dit dus haar plig gesien om ernstig en streng met hom te kom praat en wou hom herinner hoe belangrik dit was dat hy dinge moet regmaak en kerk toe moet kom. Hierdie middag was ’n keerpunt vir hom. Bettie het tot hom deurgedring en hy het besef wat sy volgende stap moet wees.

Dit is wie Elizabeth Kortjé was. ’n Vredemaker, lief vir haar medemens en sy sou enige tyd onder enige omstandighede haar laaste vir ’n ander gee. So sag soos sy was, kon sy handomkeer jou goed op jou plek sit. Dit is met hierdie einste eienksappe wat Bettie baie mense se respek en harte oor die jare gewen het. Enig in haar soort. Sy was tot haar sterfdag biddend en het met haar laaste asem die woorde, “Dankie vir die dag en dankie vir die genade,” geuiter. Dit is met hierdie woorde wat Elizabeth Kortjé (néé Ruiters) hierdie wêreld op 19 Julie 2018 in die ouderom van 83 verlaat het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top