Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 0

“Die armpie ís gebreek Mevrou … maar dis ’n mooi skoon breuk.” Ek sit die noodgevalledokter effens benoud en aankyk – ek dink sy sien dit – maar sy glimlag soos ’n ligstraal vir my én my vyfjarige dogter. Dis 20:48, die aand van 26 Desember.

Soos sy op-en af drafstap deur noodgevalle om ’n kalmerende stropie vir die pasiëntjie te kry vir die skok en die pyn, weet ek nie wie van ek of my jongste is méér verwonderd nie. “Sy lyk bietjie soos Tinkelbell, Mamma,” eggo Jongste my gedates, deur haar seer.

Dié Tinkelbell met haar vars gegrimeerde gesig, blonde hare in ’n netjiese bolla en kraakskoon groen hospitaalklere, is egter ook ’n ma; iemand se vrou. Die dag na Kersfees aan diens. In ’n beangste, seer en onseker hospitaalsaal. Ek kan nie help om te wonder waar haar eie kleuters – ek skat haar so middel dertigs – vanaand is nie. Speel hulle iewers met gister se Kersgeskenke terwyl hul ma se vashou, sagtheid en gerusstellende woorde troos vir my kind gee?

Daardie klein lyfies gaan vanaand sonder haar warm drukkies en laaste slaaptyd soene na droomland vertrek, terwyl sy pleisters plak,wonde verbind en gips aansit. Dikwels meer emosionele pleisters as fisies van aard.

Miskien gaan sy vannag vir ’n gebroke gesin die tyding moet gee dat hul geliefde dit nie gemaak het nie – hóé doen jy dit as jy die mense nie eens ken nie? Ek hoor haar by die bed langs my dogter s’n, die ouma wat onbedaarlik snik oor haar bewustelose eggenoot met geweldige sagtheid kalmeer, terwyl sy die proses van ’n EKG professioneel verduidelik. Sien haar later met geoefende hande ’n drup op ’n paar-maande-oue slap baba se armpie sit.

En ek bewonder haar. Dié vreemde vrou wat ’n beroep gekies het omdat sy omgee, omdat sy ’n verskil wou maak, omdat sy genesing in haar hande het. Die vrou wat haar eie kinders se eerste woorde of treë mis, om self hul warm lyfies wakker te kan soen en oggendpap te gee. Sodat sy vir ’n uur of vyf mý kind se trooster, geneesheer en veiligheid kan wees. My kind, jou ma of jou man se seer val breek en buffer. Namens my en jou besluite neem – dikwels die verskil tussen lewe en dood – trane afdroog en moed inpraat.

Ek wonder vir ’n oomblik of sy laat vannag, as daar iewers ’n luukse soos ’n uur van haar voete af is, haar fluistergebede oor ’n kritieke geval of ’n stukkende lyfie, omdat ’n oupa hom vergryp het aan dié lyfie, in ’n skemer linnekamer gaan uitsnik, net om later weer met vars grimering op haar bleek gelaat die volgende pleister te gaan plak?

Ek eer jou dokter-sonder-naam vir jou toewyding en omgee. Vir jou professionaliteit, al word jy hóé geskel vanuit iemand se vrees. Vir jou opofferings en selfloosheid.

Dat jy Tinkerbell was vir drie ure vir my dogter, terwyl jou eie kinders sonder jou moes klaarkom.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top