Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 0

Die vars lug en stowwerige rustigheid laat my aan haar dink. Daardie kosbare dae wat jy die malle gejaag ontsnap en net om jou kan rondkyk.

Die hoë kranse met fyn strepies kleur wat jou omring of ’n stuk grondpad wat aanhou tot daar waar jy nie meer kan sien nie. Die soutreuk van branders wat vir altyd hulle ritme hou. Dis wanneer ek steeds aan haar dink.

Ek weet tot vandag nie hoe sy dit gedoen het nie. Tot op die einde het sy alles met ’n blye, dankbare hart gedoen.  Vrou-alleen op die platteland het sy twee klein seuntjies grootgemaak en op ’n jong ouderdom was sy al die liefde van haar lewe kwyt. Party dae was daar nie genoeg geld nie, maar haar kinders en selfrespek het altyd eerste gekom.  Wat mense van haar dink, het haar nie geskeel nie.

“My kind,” het sy altyd gesê, “maak nie saak watter moeilikhede op jou pad kom nie, jy het altyd net twee keuses. Óf jy gee op, óf jy hou aan hoop.”

Mens besef mos nie die wysheid of waarheid as die oumense (ja, ons het gepraat van oumense) met jou probeer praat nie. Die beterweterige jonger geslag het altyd ’n antwoord vir alles en is nog glad nie ontvanklik vir ware lewenskennis nie. Ek was ook op my dag deel van die beterweterige jonger geslag. Maar nie meer nie.

Die lewe het mos ’n manier om gou vir jou te wys dat om ’n grootmens te wees nie naastenby is soos jy gedink het nie. Verantwoordelikheid vervang ligsinnigheid en hoe ouer jy word, hoe meer besef jy die waarde van die mense van jou hart. 

Jy besef ook nou dat daardie toets of mondeling wat jou handpalms laat sweet het op skool in elk geval nooit regtig belangrik was nie.

So is ek op ’n dag deur die siekte van een my liefste hartsmense heeltemal onkant betrap. Die lewe het sy glans verloor en een dag op ’n slag het skielik nuwe betekenis gekry. Dit was ’n moeilike pad wat ons deur die genade kon deursien. Wat ons opnuut dankbaar gemaak het vir Iemand wat daardie einste hoë kranse, horisonne en branders in stand hou. 

Die aanmoediging en oumens-les wat ek nou volkome verstaan: Óf jy gee op, óf jy hou aan hoop.

Aan elke vrou wat probeer sterk bly as dit voel of die wêreld om jou inmekaar val en skelm in die badkamer huil;

Aan elke vrou wat ten spyte van dit wat sy nie verstaan nie, elke oggend opstaan, hare kam en lipstiffie aansit selfs al voel sy nie meer mooi nie;

Aan elke vrou wat eerder vir haar kinders en familie sorg as vir haarself;

Aan elke vrou wat aanhou hoop en nie verstaan wat dit is om op te gee nie.

Dankie.

En dankie Ouma vir dit wat jy my probeer leer het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top