Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 0

My storie gaan  nie oor iemand wat ek ooit persoonlik geken het nie en ook nie oor ’n persoon wat spore getrap het in die geskiedenis nie. My storie gaan oor ’n doodgewone vrou wat ek eendag ontmoet het terwyl ek vir ’n vriendin gewag het. Ek weet nie eers wat haar naam was nie; daarvoor was ons ontmoeting te kortstondig, maar daardie paar minute wat ek langs haar gesit het, het gemaak dat sy vandag die vrou is wat ek onthou. Dertien jaar het al verby gegaan en sy lewe nie meer nie, maar soms in die stilte van die nag, kom haar gesig by my op.

Ek het daardie jare ’n vriendin  gehad en ons het gereeld by mekaar ingeloer en ek was by die dag toe sy die knop in haar bors ontdek het. Sy het ’n dokter gaan sien en na toetse gedoen is, het die uitslag gekom: Borskanker. Aangesien sy nie n bestuurderslisensie gehad het nie, het ek natuurlik aangebied om haar elke keer te vat vir haar chemo-behandeling in die Kaap, wat toe gevolg het. Ek sou dan, terwyl my vriendin besig was met die behandeling, sommer ronddrentel buite die hospitaal of op ’n bankie gaan sit om ’n boek te lees. Dit was op een van daardie dae, wat ’n  jongerige vrou, met lang bruin hare, langs my op ’n bankie buite kom sit het. Dit was ’n pragtige windstil sonskyndag en ek het gesit en dink aan al die mense in die hospitaal wat tans so siek is en in stilte ’n dankgebed opgestuur dat ekself nog my gesondheid het. Seemeeue het bokant die parkeerarea gedraai en kom land as hulle iets om te eet, gewaar het.

Ons het seker vir omtrent vyf minute so in stilte gesit, voordat sy na my toe gedraai en gesê het: “Hulle het my huistoe gestuur. Hulle het gesê daar is niks meer wat hulle vir my kan doen nie. Hoe gaan ek dit vir my man vertel? Ek het twee klein kindertjies.”  Dit is die enigste woorde wat sy ge-uiter het. Ek het die pyn in haar oë gesien en nie geweet wat om te sê nie. Wat is woorde tog in elk geval? Ek het haar regterhand in my linkerhand geneem en so het ons gesit totdat haar man daar gestop het om haar op te laai. Kort daarna het my vriendin uitgekom en ons het terug gery Paarl toe.

Ongeveer ag jaar later moes ek my pa eendag na dieselfde hospitaal neem vir toetse. Pa was binne en ek het op dieselfde bankie gaan sit, maar hierdie keer was die dag grou en bewolk.  Ek het daar gesit en dink aan daardie onbekende vrou, wat so jonk moes sterf en ’n gesin agtergelaat het. Ek het gehoop dat sy in haar laaste tyd op aarde vrede gevind het en dat iemand haar hand vasgehou het toe sy sterf. ’n Seemeeu het by my voete kom land en ek het die laaste van my toebroodjie vir hom gegooi. Ek het ingestap om vir Pa te gaan haal.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top