Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Vrou wat ek onthou

  • 10

ek gooi my geheuelyn
ver en diep in die annale
om ’n gelykenis van haar
anderkant die gaping
van generasies te kan vind
elke oggend
net voor spitsverkeer
om seweuur en nie vyf minute oor
stoot sy met aandrif
die voordeur
op die verstrooiing
van ’n eietydse lewe oop
agter haar lê beddens
nog onopgemaak
maak gou ons is laat
huiwer op die drumpel
maak haar oë vlugtig toe
stoot angs en moeg en skuld
in ’n ander baan
kosblik bottels nasorgsak
handsak boeksak doeksak
sy knip met sagte hand
die gordels
oor klein lyfies vas
draai net betyds by die skoolhek in
soentjie drukkie traan
moenie huil nie
mamma kom jou vanmiddag haal
om een minuut voor agt
stap sy goedversorg
haar dagtaak in
’n woesteny
van doen en mense dien
en vriendelik met die lewe wees
laatmiddag roete terug
stofsuig en wasgoed was
stryk en gesonde kos berei
hallo pappa
kinders bad en storie lees
dan ogies toe
soms die heel nag lank
’n koorsig handjie
styf vashou
en in die wakker lê
haar diepste self
weeg en weeg
ek vind haar
voorvegter
wondermens
staaldraad
die werkende vrou
tussen die heldinne
van toe en nou

  • 10

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top