Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Ma se liefde

  • 0

Leila hou haar ma fyn dop. Sy sien haar ma se hande bewe soos sy die gare deur die werksmasjien se naald probeer steek. Hulle is in ’n finansiële krisis. Leila se ma het besluit om ’n paar kinderjassies te maak met haar oortollige materiaal om geld in te win. Leila wens sy was so talentvol soos haar ma om iets uit niks uit te kan maak.

“Kan ek Mamma help om die garing in die naald te kry?” Laila sukkel self om te sien in die donker sitkamer maar voel tog sy moet iets doen om te help. Haar ma wil nie eers ’n tafellampie aansit nie, net om krag te spaar. Leila weet nie hoe hulle dit tot die einde van die maand gaan maak nie.

“Nee dankie, my kind. Miskien kan jy net die gasstofie aansit vir koffie.” Sonder om ’n woord verder te sê, staan Leila op, maak die gietysterpotjie vol water en sit dit op die gasstofie. Alhoewel sy nie self koffie of tee drink nie gee sy nie om om vir haar ma ’n beker koffie te maak nie. Haar ma sal net self die koffiepoeier en suiker in die beker moet gooi want Leila is bang sy maak die koffie of té sterk of té soet. Al gaan haar ma nie daaroor baklei nie sal sy tog in haar ma se gesig sien as die koffie nie reg proe nie. Leila staan vir die gietysterpotjie en kyk terwyl haar gedagtes hulle eie gang gaan. Sy het nog nooit iemand soos haar ma ontmoet nie. Haar ma is die een persoon wat haar klere van haar lyf af vir ’n arm persoon sal gee, al is dit die laaste kledingstuk in haar kas.

“Staan jy alweer en droom?” Vra Leila se ma skielik agter haar. “Daai potjie fluit soos ’n voeltjie in moelikheid.” Leila lag en onverwags hardloop ’n traan oor haar vang.

“Ag nee, my kind. Ek weet dit gaan nie nou goed nie maar ons sal weer bo uitkom,” troos haar ma. Leila snik nog so paar keer ... haar ma die sterk vrou wat haar gesin altyd voor haarself sit.

“Ek is nou so lus vir iets soets dat ek sommer suiker kan eet,” lag-snik Leila.

“Wag, ek het die perfekte ding vir ons.” Leila se ma krap in die kas rond en kom met ’n ou blik Milo vorendag. Die Milo is al kiphard en hulle moet dit stukkend slaan met ’n lepel voor hulle dit kan eet. Leila en haar ma gaan sit soos twee kinders op die vloer, elk met ’n harde stuk Milo in die hand. Leila kyk na haar ma en besef hierdie vrou is sterk, vol gees en gee ongelooflik baie om vir die mense in haar hart. Leila wil graag eendag soos haar ma wees.

Dan hoor sy weer haar ma se stem in haar kop: “Behandel altyd ander mense soos jy behandel wil word, my kind.” Sy glimlag en eet haar Milo.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top