Vrouedag-skryfkompetisie: ’n Formidabele vrou

  • 0

Ouma Martjie, of Ou Tanna, was ’n formidabele vrou. ’n Vrou haar tyd ver voor. ’n Vrou wat die London News gelees het. Ook Keats en The garden of Khama. Sy het gesê, “Bring not here an idle maiden, bring not here a useless woman.” Dan het jy geweet jy moet die meelsakvadoek gryp en afdroog of die kombuis uitvee.

Die dag toe my ma dood is, het sy my teen haar blou blommetjiesrok en spierwit voorskoot vasgedruk. Net vasgedruk, niks gesê nie. Daarna het sy my die vlakastrol gegee om die laaste bietjie vla met ’n lepeltjie uit te eet.

Sy was ’n kok met waagmoed. Haar botteltjies met piepklein worteltjies, komkommertjies en uitjies in ’n kruiesous was kunstig gerangskik en het elke jaar die prys op die Landbouskou gekry.

Ons drie wesies het elke laatmiddag ’n bakkie sop by Ouma gaan eet. Sop het nog nooit weer so geproe soos daardie bakkie troossop met kruiemeelkluitjies nie. Haar forte was troukoeke – bak en versier. Die vrugte moes in brandewyn lê vir ’n dag of twee. Net plaasbotter en vars eiers is gebruik vir die vrugtekoek.

Sy het die ragfyne versiersuikervlerke snags op ’n hoë stoel langs die kombuistafel sit en maak vir drielaag-troukoeke. Die res van die versiering was klein silwer balletjies wat kunstig gerangskik was of ’n bruidspaartjie wat sy uit marsepein gemaak het.

In die laatnag, op haar eie, het sy stukkies uit haar digbundels voorgedra:

“They who nothing call me fickle
Keen to pursue and loth to keep
Ah, could they see these tears that trickle
Could see me prone beneath the sickle,
While pain and sorrow stand and reap.”

Hierdie gedig was onderstreep in haar digbundel. Miskien het sy geheime verlange gehad wat sy op hierdie manier uitgeleef het.

Ouma-hulle het dit nie breed gehad nie en het nooit iewers heen gereis nie. Sy het gesê haar Jan Tuisbly Karretjie het haar oor die hele wêreld geneem.

Op haar kombuistafel se blad was ’n stuk linoleum en onder dit interessante koerant- en tydskrifuitknipsels. Ek onthou spesifiek haar uitknipsels van die Eeufeesviering in 1938. Daar was ook resepte uit Die Brandwag wat sy uitgeknip het. 

 Die agtertuin was beplant met groente, maar ouma het ook blombeddings gehad. My kennis en liefde vir blomme het ek van haar gekry. Saans het sy die slakke gaan voorlê en in soutwater gegooi. Sy het groot Jakopregoppe gehad in die mooiste skakerings van pienk. Die blou Canterbury bells het my altyd laat dink aan die Royal family. Dan was daar veelkleurige leeubekkies, outydse lekkerruikrose, daffodils, narsings en angeliere.

Sy het nooit blomme gepluk vir die huis nie, maar graag uitgedeel. Altyd gesê ’n blom hoort in die tuin in die sonlig.

Ouma, by jou het ek geleer wat jy met geesdrif doen, doen jy sonder moeite. Al het jou kunstig versierde troukoeke lankal verkrummel, sal jou lewenslesse altyd voortleef in my hart en lewe. Mag dit oorgedra word van geslag tot geslag.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top