Marianne (Burger) Collen is in Worcester gebore,waar sy haar skoolloopbaan voltooi aan die Hoër Meisieskool Worcester. Sy studeer op Stellenbosch in die onderwys en hou jare lank vir intellektueel gestremdes skool. Sy skryf ’n operette (Die geheim van die reënboogpot) saam met Suzelle Eksteen, wat deur DALRO gepubliseer is. Van haar verhale verskyn in tydskrifte. Sy was saam met Rita Gilfillian redakteur van Sonvangers (in en om die lewe van verstandelik gestremdes). In Via Afrika se Graad 5-leesboek word haar verhaal "Die dingvreter" opgeneem. Sy wen Storiewerf se Vonkelfiksie se kreatiewe skryfkompetisie met die kinderverhaal "Die eier van alle eiers" asook die Antwerpen-prys vir ’n kleuterverhaal, "Gaan jy saam?" Sy woon in Stilbaai en behoort daar aan ’n skryfkring. Sy skryf en illustreer kinderboekies vir haar kleinkinders en laat dit sommer in Stilbaai druk.