Vrouedag-skryfkompetisie: My se ouma

  • 2

Ek was in my Graad 7-jaar. Ek het nog die aand voor die tyd my Engelse mondeling geskryf en geleer.

Die juffrou het gesê sy sal my nog ’n kans gee sodat ek my mondeling voorbereid kon aflê. Ek was opgewonde toe ek die volgende oggend wakker word, maar my ma se lomp figuur in my deur het my laat skrik. Ek het eers die tyd gekyk en gesien dis al voor agt. Ek moes al begin loop het om betyds te wees vir skool.

Alles was verkeerd. Alles was donker, niemand was haastig nie, en niemand het gehuil nie. Almal was net stil.

Ek het die briefie langs my bed opgetel, ek sou dit daardie aand vir haar gee. Ek onthou alles wat ek geskryf het – dat sy sterker is as enige siekte, hoe baie ek haar mis, hoe jammer ek is dat ek net een keer by haar gaan kuier het. Ek het geskryf hoe bang ek is om haar te verloor.

Die ergste is dat ek nog steeds alles bedoel wat ek ses jaar tevore in die briefie geskryf het.

My hele lewe lank wou ek presies soos sy wees. Sy was die een perfekte persoon wat ek geken het. Sy het niemand gehaat nie, en niemand het haar gehaat nie. Sy het die oulikste glimlag gehad voordat dit verander het in ’n uitbarsende lag. Dis hoe almal haar onthou: altyd gelukkig.

Alles aan haar was perfek. Selfs haar dood was vir my mooi. Sy het nog met die verpleegsters gelag, haar tee klaar gedrink, die koppie neergesit en toe het sy haar laaste asem uitgeblaas.

Sy het vir ’n baie lang tyd gesê sy gaan vir my skoene koop. Ek het dit nooit regtig ernstig opgeneem nie. Ek het nie besef hoe belangrik dit vir haar was nie. Sy het alles behalwe ’n maklike lewe gehad. Sy het arm grootgeword en die feit dat sy half-wit was, het ook nie veel gehelp nie.

By die begrafnis het die priester stories oor haar kinderdae vertel. Hy het vertel hoe sy, haar broers en susters selfs deur winter moes kaalvoet loop om by die skool te kom. My hart het gebreek. My ouma het my nooit daardie storie vertel nie.

Ek het daar besluit dat ek nooit te arm gaan wees om skoene te bekostig nie.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top