Vrouedag-skryfkompetisie: My ma

  • 0

As ek geweet het dat ma's ook huil was ek dalk meer simpatiek … As ek geweet het dat ma's ook moeg of siek kon word, het ek dalk beter verstaan.

Ma was vir my "Vir Altyd". In my dogtertjiehart het ek gedink dat tussen oggendnaarheid en verterende kraampyne daar ook immortaliteit aan Ma toegeken was, want ma's raak nie op.

As ek maar geweet het dat Ma in tien maande ’n totale metamorfose sou ondergaan van kleurryke vlinder tot weerlose wese tussen blou-en-wit hospitaallakens, vasgekeer in ’n liggaam wat nie meer kon … Het ek maar geweet die monster wat Ma kom steel het, het ’n naam. Maar ek het nie.

Met kennis sou ek beter verstaan het van Prediker 12:1-7  – van die son wat donker word omdat ou oë nie meer wil sien nie. Sou ek beter begrip gehad het vir die wagters van die huis wat bewe, omdat dementia ou bene moeg maak.

As ek meer geweet het oor die malers wat nie meer maal nie, sou ek die borde onaangeraakte kos beter begryp het en vervang het met Ma se soet gunstelinge, sou ek beter verstaan het wanneer ek alles soms ongeduldig moes herhaal, want dementia is ’n monster wat die stemme van buite uitdoof en ou mense vaskeer in ’n wêreld vol vreemdelinge.

As ek meer geweet het, sou ek verstaan het hoekom my vreeslose ma skielik bang was. Ma se laaste maande deurgebring in ’n geslote huis, met tralies beskerm, vreesagtig vir die niks wat van buite kan inloer … Gordyne dig toe, onbewus van die groter gevaar van die dementia-monster wat binne die mure van veiligheid Ma se menswees kom verslind. 

As ek geweet het wat beteken dit as die silwerdraad afbreek, die een wat ma en kind ’n leeftyd bind, selfs na die knip van die naelstring en die eerste lewenskreet.  Later kind en ma maar steeds verbind met ’n ewige lint. Ma het verhuis na ’n ewige tuiste, die spoor van die dementia-monster weggevee deur ’n groter Hand, die wonde van sy pik net ’n traan in Ma se stof.

As ek meer geweet het van dementia en Alzheimers wat in sewe fases iets van Ma se immortaliteit kom wegbeitel het, stukkie vir stukkie, hier voor my oë. En ek in ontkenning, want Ma word net oud, nooit siek of kwesbaar of bang of benoud of in die laaste en sewende rondte van die geveg teen die toue met die monster nie. ’n Uitklophou – die monster wen …

As ek meer geweet het maar ek het nie, en nou pak ek Ma se huis op. Deel die bangoed in kartonbokse, huil so ’n bietjie, lag en onthou so ’n bietjie, pak weer. Stuk vir stuk pak ons Ma weg – een vir jou, een vir my – regverdig, gelykop soos Ma ons geleer het.

Ek stap uit. Wil nie terugkyk maar doen tog … Lot se vrou. Die sitkamer kaal. My gedagtes eggo in die leegheid – geen lappies, geen blomme, geen portrette of onthoutyd se kiekies, geen Ma op die bank – leeg soos my hart. Ek stap uit en sluit die regverdig-verdeelde bangoed en my eie leë hart veilig binne toe. Dementia is nie meer daar om bang te maak nie, net die niks wat spook en met elke draai van die sleutel in die koue staaldeur se slot my inwag en "boooooe" skree as die houtdeur my inlei na die niks waar Ma se kombuis was …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top