Vrouedag-skryfkompetisie: Mutti Malherbe

  • 7

Winter 1947. Stellenbosch. Na haar man se dood het Mutti Malherbe die groentebeddings in grafte omskep. Sy het elke dag vyf emmers grond uitgegrawe; drie meter lank, twee meter breed en so diep soos die volgende perd wat na aan sy einde lyk.

Die 12-sitplek bal-en-klou-eetkamerstel is uitgeskuif stoep toe om plek te maak vir die perde. "Dis makliker om hulle te versorg hier naby my. Boonop hou die hitte van die Aga hulle warm. Niemand het vir jare by daai eetkamertafel gesit nie. ’n Spierwit olifant," was Mutti se verduideliking.

Moddernaels, graspatrone op haar knieë, die spore van jare se son op haar decolletage, ’n handgemaakte voorskootrok. Grys bokstert wat onder haar strooihoed uithang. Grondstreep op haar voorkop. Dis hoe sy jou verwelkom as jy ongenooid opdaag. Met ’n glas Moët in die hand terwyl sy die tuinhekkie oopstoot.

Dié nag het ’n onophoudelike gerunnik haar wakker gemaak. Sy het haar blou kamerjas bo-oor haar lang nagrok gegooi en gaan kyk wat skort. Kaalvoet. "Dan vra die mense hoekom die perde in die eetkamer slaap," mompel sy vies.

Ou Appeltjie se oë albasters in sy kop. Hy en die res van die perde het op en af getrippel tussen die blou en die rooi eetkamermure. Elke keer as ’n dakplaat lig en weer val, trap hul voorpote in die lug asof hulle stroomop in ’n rivier swem. ’n Angstige gerunnik vul die werf toe ’n dakplaat losruk en die nag in tuimel. Kort daarna het die plafon ingeval, die Oregon-vloer nou die bodem van ’n rivier wat deur die huis stroom. Die perde histeries.

"Mutti sal gaan regmaak. Julle oumensies sal nie die oggend haal in die koue nie," het sy haar perde belowe terwyl sy kombuis toe hol om ’n flitslig, hamer en ’n handvol spykers te kry. Met gereedskap veilig in haar kamerjassakke het sy die leer teen die huis se muur staan gemaak en opgeklim dak toe. Slierte grys hare klewend in haar mond en oor haar oë. Flits in die mond, handeviervoet op die dak. Haar blou kamerjas in ’n oogwink deurnat gereën. Sy het die band om haar lyf losgekarring en die swaar jas oor haar skouers afgestoot. Die wind het vinnig klaargespeel met die kamerjas – handvol spykers nog in die sak.

Sonder spykers en dakplate kon sy niks doen nie. Plat op haar maag met haar kop in die gat na die eetkamer het sy begin sing: "Mutti se pe-e-erdjies, julle moet rus. Mutti hou  do-o-op, niks sal julle seermaak. Rus my pe-e-erdjies. Mutti sal sorg."

’n Paar dae later is drie ou perde in voorbereide grafte op Mutti se plaas begrawe. Mutti in die vierde graf. Ellende, honger en verlange het die perde se einde beteken toe Mutti drie dae later steeds tussen hulle op die nat eetkamervloer lê.

Minus Mutti se skuiling. Nou net ’n gat in ’n eetkamerdak.

  • 7

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top