Vrouedag-skryfkompetisie: Môre is nog ’n dag  

  • 2

Amanda lê op haar bank en dink. In die agtergrond raas twee vroue op Kay Burley se Sky-program.

Die skietery in El Paso is Trump se skuld, skree een. Nee, dis nie Trump se skuld nie brul ’n ander. Wie die hardste skree, wen.

Amanda weet sy lê te veel op die bank. Met ’n sug strek sy haar bene en druk op haar ribbes en heup. Sy voel hulle darem nog. Waar is die Woollies-neute.

Vrouedag. Net nog ’n braaidag. Seker ook Jan Braai en die Stellenbosch mafia se idee. Peinsend rol sy ’n makadamia rond met haar tong. Sy onthou die e-pos wat soos alle ander soms snaaks, soms simpel e-posse die kantoorrondtes gedoen het. Glo ’n uittreksel uit ’n 1955 Amerikaanse weergawe van Vrouekeur of soiets. ’n Goeie vrou wag haar man in met ’n kleurvolle lint in die hare en ’n smaaklik voorafbeplande aandete. Sy praat nooit eerste nie want na alles is sy gespreksonderwerpe soveel belangriker as hare. Sy bevraagteken nie sy oordeel nie want hy is mos reg. Kla mag sy beslis nie. Veral as hy laat kom of liewer gaan uiteet. Die artikel eindig met ’n uitklophou: ’n goeie vrou ken haar plek. Nou ja toe nou. Is dit vrouens? Was dit ooit?

Nog ’n neut kraak. Die oranje oerang-oetang het Hillary Clinton ’n nasty woman genoem. Nou skryf ma en dogter Clinton ’n boek oor wicked women. Is wicked ’n eufemisme of is dit die oortreffende trap? Indira Gandhi was na bewering gewetenloos. Is dit wicked en nasty? Wat van die ystervrou Margaret Thatcher? Gewetenloos, gemeen, genadeloos en goor. David Ben Gurion het na Golda Meir verwys as die enigste man in sy kabinet. Amanda proes deur ’n paar amandels. Ou David sou vandag ’n skouspelagtige twitter-gyseling gekry het vir daardie een.

Is Thuli Madonsela dan die vrou waaroor Vrouedag gaan? Intelligent, mooi, suksesvol, onkreukbaar eerlik en nogal gaaf ook. Almal kan tog nie Thulies wees nie.

Amanda doen gou ’n denkbeeldige inventaris van haar ongekykte Showmax-reekse. "Little Big Lies" sal net reg wees vir n reënerige vrouedag. Dis vol vrouens wat vergeet het van hulle plek. In elk geval, dink Amanda, plek en tyd is relatief.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top