Vrouedag-skryfkompetisie: Meisie van Elandsvlei

  • 1

Dit is vieruur Sondagoggend. Joey Barnard is wakker nog voor die wekker haar geroep het. Faan, haar man, is reeds besig saam met die werkers by hul melkery. Die melkboerdery spel vir Joey hartseer en bekommernis. Here, was dit nie genoeg nie dat ons enigste seun in sy matriekjaar weggeruk is van ons af?  Wie het nou gedink dat breinvliesontsteking tot sy dood sal lei. Neels, die begaafde sterk jongman. ’n uitblinker in alle fases van sy kort lewe op aarde.

Joey staar by die venster uit. Die son vat-vat aan haar wang maar sy voel geen warmte nie. Sy voel net ’n nattigheid oor haar wange rol.

Hoekom het hul nie daardie oggend van die gesteriliseerde melk gedrink nie? Die melk wat Miena die koei gegee het daardie oggend het ’n kiem in gehad. Ons almal het van die melk gedrink maar Hannie se immuunstelsel was swak omdat sy bronchitis gehad het. Die tb-kiem het haar liggaam aangeval. Vanaf driejarige ouderdom het die linker-been al korter begin word en omdat die kiem die heupgewerig aangetas het, het dit die groei van die been gestop.  Die skoolsuster het hul verwys na dr Mesch by Paardekraal Hospitaal. Die stryd begin. Vanaf ses tot veertien jaar is dit herhaalde konsultasies, inspuitings, medikasie, gips van onder die arms regdeur tot by die tone en ’n spalk tussen die bene om Hannie rond te kan dra.

Faan kan dit een oggend net nie meer verduur nie. Hy los sy koffie en stap buitentoe. Ek kan sien hy is besig met ’n gesprek, maar met wie? Ek stap tot by die agterdeur en hoor hom roep na God! “Here, in geloof gaan ek Hannie se gips afsny en glo dat deur U wonde daar vir haar genesing kom!” 

“Faan nee, jy kan dit nie doen nie!”

“Joey, staan saam met my asseblief!” 

Die gips is af. Ons behandel haar vervelde, maer lyfie met stella-olie en babapoeier. Sy is swak maar kan in ’n rolstoel sit. Sy kry tuisonderrig. Mnr Papenfus, mnr Aucamp en juffrou Du Toit is baie goeie onderwysers en help Hannie om op standaard te bly met haar skoolwerk.

Dit is Woensdagoggend en tyd vir biduur. Faan het dorp toe gery. Lizzie, die huishulp, bly by Hannie om haar op te pas. 

“Lizzie … Lizzie!”

“Ja Hannatjie, wat is fout?” 

“Lizzie, vandag gaan ek uit hierdie rolstoel opstaan en loop. Sal jy my net ’n bietjie help?”

“Nee Hannatjie, wat as jy val?”

“Kom Lizzie, hou my vas onder my arms.”

"O liewe Jirre, vandag moet jy vir Lizzie help, asseblief!”

“Kyk Lizzie, ek kan staan!”

Herhaalde kere loop Hannie die gang af. Bietjie rus. Weer probeer. Treetjie vir treetjie loop Hannie op haar linkertoon. Wanner sy weer in die gang afkom, staan Joey daar. “Hannie wat doen jy?” 

“Ek loop Mamma, ek loop.”

Op daardie oomblik vat-vat die son weer aan Joey se wang. Sy voel warmte. Sy voel dankbaarheid!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top