Vrouedag-skryfkompetisie: Kyk net Boontoe, my kind

  • 0

“Kyk net Boontoe, my kind,” het Ma gesê toe ons na Pa se ongeluk gebid het dat hy moet leef en gesond word. Toe gaan hy dood en sy volstaan met: “Kyk net Boontoe vir krag en genade om aan te gaan …” Al het sy pas die liefde van haar lewe verloor.

Soos die meeste kinders onthou ek haar in spys en drank en vir die ‘wat wat’, waarmee sy haar sinne afgesluit het. Lang kuiers op Sondae wat begin met ontbyt, koek en tee. ’n Sondagmiddagmaal wat aangehou het tot koffietyd. En daarna het ons die oorskietkos met mening ingepak. Ek en sy was altwee lief vir oorskiet sous met brood.  

Tussendeur het Ma gesê: “Boetie, gooi vir Ma ’n siepsie.” Brandewyn en Coke. En Tia Maria teen laatmiddag, wat sy met haar Courtleigh Satin Leaf getroetel het.

Na die kuiers was daar bokse kos wat sy vir ons ingepak het om huis toe te neem. Kleinsus Viv was verloof aan Dave en Lollie het altyd saam met hulle gery. Dave se Datsuntjie was so gelaai met al die freebies dat die gewig die wieldoppe skoon ovaal gedruk het. Ons het gelyk soos Paasnaweek in die Krugerwildtuin, voordat daar winkels in die kampe was!

Ousus se man was ’n bietjie van ’n snob, en glo stinkryk … Ma het na hom  verwys as die wyse man van die Ooste. Hulle het in Pretoria Oos gebly, no less.

Sy was klein, ons het haar almal ongeveer op elfjarige ouderdom in lengte verbygesteek, behalwe middelsus Lollie.

Toe kom die ding op – Ek beplan ’n sprong om met ’n selfgeboude kar oor die Panorama watervalle se ravyn te spring. Ek wou die rekord vir die afstand wat in die film Hooper opgestel is, breek. My ma was vreesbevange en erg geskok oor my vasberadenheid. As iemand haar daaroor gevra het, het sy net gesê: “Ek kyk maar net Boontoe …”

Konflik van belange, want ek het ook mooi gevra. Háár gebed is verhoor. Die borgskap het nie gematerialiseer nie.

Stilletjies, glo ek het sy baie gehou van die idee dat ek soms kampioen van die ovaal renbane was. Voet in die hoek sit was immers in haar bloed met ’n neef soos Bobby Olthoff. Haar pa was self ’n bietjie van ’n spoedvraat, wat haar kleintyd met sy motorfiets en syspan aangery het skool toe in Duivelskloof. Kort draaie en woeste afgronde. Dit moes eenvoudig fantasties gewees het.  

My ma was liefde. Ek onthou my ma se skilderkuns; sy het naaldwerk gedoen, gehekel en blomme gerangskik. Dan het sy pragtige gedigte geskryf. Ek onthou haar in alles wat mooi is. Pragtige wolkformasies, die natuurskoon, klein diertjies.

 Maar veral onthou ek haar, wanneer ek Bybel lees en self Boontoe kyk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top