Aan haar:
wat elke dag soos Kersfees laat voel.
Aan haar:
wat my hart se vensters toetrek as die rook my kamers wil versmoor.
Aan haar:
wie my liewer het as die lewe self
Mamma is eintlik ’n metafoor vir ’n son,
met planete van dogters,
wat afhanklik is.
Die middelpunt van wêrelde se bestaan.
Mamma was strofe een in my lewe,
een van die min ysters in die vuur wat my gevorm het.
Self gebreek verlep of gekneus
opgestaan geloop gehardloop en nou vlieg Mamma.
Hoog bo die foute en vyande van gister
My naam is omkring in jou dagboek.
My wese deel van die lyne op jou palms.
Saam pluk jy my blomme,
jou wese die lint wat hulle bind.
Jy maak my drome vas aan ’n maantuig,
en glo dat dit verder sal kom as die plafon.
Jy skryf my geluk met sterrestof
Jy teken my hart in die sand op die maan
Jy lewe asof dit al waar geword het
Jy is die son
Jy is meer as jou verlede.
Mamma:
Jy is die Son.


