Vrouedag-skryfkompetisie: jy

  • 6

die deur gaan oop
nie versigtig nie
nee
skielik
ek ruik koffie
en hoor dan jou stem
hey schwesterchen
dis koffie-tyd
jy wag tot ek kiertsregop in die bed sit
en die koppie koffie by jou vat
dan klik-klik-klik jou hakskoene oor die teëlvloer kombuis toe
en weer terug tot by my
met jou koppie koffie in die hand
dis sesuur in die oggend
jy is reg vir die dag
jy begin gesels
ek luister so goed ek kan
want eintlik is ek nie heeltemal wakker nie

jy: waar is jy?
ek: op die toilet
jy: o, ek wag buite vir jou
     op die stoeptrappe of op die swaaibank onder die boom?
ek: op die trappe
jy: dis nog warm van die son
      onder die boom is beter
ek: okay

jy gee vir my ’n hangertjie en oorbelle
silwer vlerkies
ek gaan suid-korea toe
want ek het eendag in ’n vergadering by die werk gesit
by die venster uitgestaar en besef
ek wil nie meer hier wees nie
vlieg
sȇ jy
hoog en ver
maar kom dan en wan huis toe
sodat ons op hierdie stoeptrappies kan sit en wyn drink
terwyl ons kyk hoe die son sak
en klets
of probeer sin maak
van hierdie deurmekaar wȇreld

ek: hoe gaan dit met jou
jy: ek is moeg
ek: hoe lyk die tuin?
jy: dis droog
      dit kom reën nie

dis vroeg op ’n Vrydagoggend
ek is al van gisteraand af onrustig
ek tel my selfoon op
daar is missed calls,
boodskappe en voice notes
ek is bang
ek luister en ek lees

jy is so skielik
weg
ek vlieg
hoog en ver
huis toe
waar ek self koffie maak en dit alleen sit en drink
ek sit op die stoeptrappies en kyk hoe die son sak
niks wyn vir my nie, dankie
ek hoor jou stem
in en om elke hoek en draai van die huis

jy was hier
jy was regtig hier
die hele jy
die hele plek vol

dis te stil
te leeg
so sonder jou

  • 6

Kommentaar

  • Avatar
    Sally Lazanas

    How utterly moving. Not one extra word, not one repeated sentiment. I felt taken on a soul journey of my own , all the particulars of our very human, relationships - the fine detail of what warmth means and the sorrow of a great loss.

  • Avatar
    Marika van Heerden

    Dis die mooiste, hartroerendste stuk skrywe wat ek in n lang, lang tyd gelees het. Met min woorde het jy die hele omgewing, wese en trant geskep en my ingetrek tot die laaste woord. Dankie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top