Vrouedag-skryfkompetisie: Hester Wilhelmina

  • 1

Die pote van die staalkrukke tref die klipvloer met ’n klik-klik soos sy met haar twee tarantula-arms die handvatsels vasklou en die 65-jarige, vooroorgebuigde lyf kombuis toe sleep. Versigtig sak sy op die stoel voor die tafel neer. Haar onderlip bewe terwyl sy skelm die opgedamde trane uit haar oë vee. Die osteoartritispyne wat elke gewrig in haar lyf deurtrek, maak leef party dae ondraaglik.

Met ’n gesukkel wiel sy met die kantoorstoel om die tafel na die yskas toe. Beste plan wat Pa kon maak om haar aan die beweeg te hou. Met een arm wat die ander ondersteun haal sy die pakkie vleis uit. Maalvleis vir aandete, want vir ’n huisgesin van vyf moet daar gekook word. Dit laat haar seker nog handig voel, of sy die kamer in haar skoonseun se huis verdien.

Ek sit in die kar voor die hek. So moeg ek wil huil – jammer vir myself. Op 39 voel ek 80 jaar oud, want vir hierdie gesin van vyf moet daar gesorg word. Ek huiwer om in te gaan, want my trane lê vlak en ek is nie lus vir die hallo-roetine nie.

Die geur van bobotie wat bak, walm by die kombuisdeur uit. Met een arm wat die wasbak stewig vashou, druk sy haarself op. Haar erge klopknieë maak regop staan moeilik en met ’n sywaartse geskuifel kom sy voor die stoof; loer of die geelrys nog water in het. Ek staan in die deur, groet nie – kyk net.

Die grys sweetpakbroek wat knap oor haar heupe span en die pienk slippers is ’n wêreld verwyder van die dae toe sy snyerspakkies en groot oorbelle werk toe gedra het.

"Net omdat jy mollig is, my kind, beteken dit nie jy moet jou voorkoms afskeep nie." Words to live by, want ons almal hou van eet en vetrolletjies is by die hele familiegroep teenwoordig.

Eenkant op die tafel lê ’n stukkende skoolbroek, want selfs met kromgetrekte vingers maak sy alles reg.

"En as jy so lyk?" Sy gewaar my by die deur.

"Ek's moeg. Lang dag." My antwoord geforseerd.

"Het jy my WhatsApp gekry?"

"Nee, nog nie gekyk nie." Ek sit my handsak op die tafel neer en loop kamer toe. Geïrriteerd met die gesprek ...

My foon vang die Wi-Fi-sein op en die boodskappe stroom in.

Ma – "As jy wil, kan ek een keer per week vir jou winkel iets bak. Ek weet jou ure is min en kookwerk baie. Ek sal jou help. Laat weet maar."

Skaam sit ek op die bed, trane rol oor my wange. Hoe durf ek myself bejammer met ’n gawe soos dié? Met bene wat nie wil loop nie en hande wat skaars kan raakvat, dra sy my deur die gejaagde lewe. Wie ek is vandag is met liefde aan my oorgedra; deur my vriendin, raadgewer en leermeester.

My inspirasie vir ewig. Hester Wilhelmina - Ma!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top