Vrouedag-skryfkompetisie: Haar briewe

  • 0

Toe sy die deur oopmaak, staan die rooiwang Kakie daar met haar twee blou koeverte in sy hand. Sy neem dit woordeloos. ’n Dik swart streep is oor die adresse op albei getrek. Woedende swart sirkel om die seëls. Sy het doelbewus King George II op die seëls onderstebo geplak. As Jan dit moes weet, het hy haar sekerlik "tot orde geroep", soos hy dit genoem het wanneer haar rebelsheid wys.

"Sybella, my vroutjie, hou bietjie terug," het hy haar liefdevol probeer reghelp. 

Sy laat haar nie maklik voorsê nie, dit weet Jan. Sy weet hy hou van haar reguit maniere. Dit is die wilde streep in haar, het hy altyd gesê, wat hom aanvuur.

Sy staar na die adresse. Nou sal General Jan Smuts en Miss Olive Schreiner nooit weet dat Lord Kitchener haar in huisarres kom sit het nie – in Pietermaritzburg, nogal. Hulle sal nie weet van haar seuntjie se dood of die verterende verlange na haar man en haar familie nie.

Waar is hulle? Die twyfel en vrees vir hulle veiligheid, die eenvoudig nie-weet-nie martel haar meer as enigiets hier ... die karige proviand daagliks, die verlies aan vryheid, minagting in die Kakies se oë as hulle na haar kyk, maak haar woedend opstandig.

Die koeverte bewe in haar hand. Stadig sit sy hulle op die tafetjie neer.

Liewer saam met die ander vroue in die kampe ly, het sy geskryf, as om in redelike gemak die skreiende isolasie te moet verduur.

"Soms gaan sit ek en Sus en Magrieta in die oorgroeide tuin hier agter. Ons mag die huis nie verlaat nie. Tensy ons  skriftelike toestemming kry en dan slegs onder begeleiding van die een of ander jong soldaat.”

Sy smag daarna om ’n kerkdiens by te woon. Sy smag na haar boeke en Jan se heerlike briewe. Sal sy ooit weer van hom hoor? Hulle het glad nie verwag die Engelse sou weer oorlog verklaar nie. Daaliks in haar gemoed is Jan se innige omhelsing voordat hy Pretoria toe is om by Louis Botha te gaan aansluit.

"Daar sal nie oorlog wees nie, my liefste Isie, ons sal gaan praat en probeer vrede sluit.”

Dit was twee jaar gelede. Intussen het Engeland met sy volle wreedheid toegeslaan. Die Boere wat nog wou veg, is teruggedryf, uitmekaar geskiet, weggevoer na wie weet waar. Die vroue – o, Here, die vroue en kinders, die oues van dae, die sieklikes, die volk, almal soos vee aangedryf en op die haai vlaktes in tente saamgebondel – uitgelewer aan die walglikste vernederings, hongerte, siektes, onmenslikheid … 

Kitchener het gesorg dat sy ’n radio het sodat sy na die BBC kan luister. Dit is vir seker sy siek idee van goedgunstigheid.

Sy staan op, trek haar skouers agteroor. Voor hom – Great Britain – sal sy, Sybella Margaretha Krige Smuts nooit die knie buig nie!

"Daarvoor is my ruggraat te sterk en brand my liefde vir hierdie verskroeide land onblusbaar," sê sy hardop.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top