Kate Bester se skryflus is gebore op droë, warm Natalse Vrydagmiddae in Vryheid. Dit was opstelskryftyd teen die appelkoosboom se stam vir Maandae sodat die hele naweek vry en vol moontlikhede kon wees. Sy het studeer by Tukkies en het later verneem dat sy die eerste en waarskynlik die enigste student was wat Afrikaans-Nederlands, Duits en Engels L1 op derdejaarsvlak geslaag het.
“Soos ander seëls versamel, of goggas, versamel ek woorde ... en ander tale. Hoe tale werk is vir my magies.”
Sy het lank in die Midde-Ooste Engels onderrig en daar Arabies en Russies geleer ... wel, net genoeg om nie te verdwaal nie.
Sy publiseer sedert die tagtigerjare in vrouetydskrifte en onlangs verskyn van haar ernstiger kortverhale in twee bundels, nl een by Malherbe Uitgewers en een by Tafelberg.
Tans werk sy aan ’n historiese roman.
“Die gawe om kreatief te skryf, is vir my die grootste eer en geskenk ooit, maar ook ’n uitdaging wat baie toewyding verg,” sê Kate
Kate het twee dogters, ’n seun, ’n kleinseun en Fritz haar hond, en boeke en musiek en tuinmaak en kosmaak en swem en stap en verf wat haar alte maklik kan weghou van die rekenaar!