Vrouedag-skryfkompetisie: Friedel Farr (oppad na 106) 

  • 0
 
Liewe tannie Friedel

ek wil die lewe soos jy brei

steke lewensvreugde wat nooit
val of faal nie
nêrens op die
lewenspad verdwaal nie

ingewikkelde slaapsokkies
op 101
saam met weeklikse diens
by die ouetehuis se
sopkombuis
Ai, die oumense!
lag jy tandloos
moenie vir die wêreld
daai gate wys nie
bieg jy skaam
terwyl jy jou oë
die vensters van jou siel met kohl
omraam
Mooi!

so kleurryk soos jou
vierkantige vatlappe
toe ek gaan kuier op
103 met die halfjack
onder my arm
net ’n sopie
teen sononder
knoei jy en tannie
San stout
geswore karnallies
op jou sonnige
ouetehuiskamer se balkon

die uitsig vandaar is
beklemmend, niks
noemenswaardig nie
maar soos jy en tan San
glimlaggend gemeensaam
daar sit en lewensstekies
soet en soms stout brei
besluit ek op die daad
met soveel lag en liefde
wil ek ook my lewe lei!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top