Vrouedag-skryfkompetisie: feniks

  • 3

yl wind loei oor lanfergrond
rouklaag by kinderkruise
stof dwarrel oor verwarde hopies rond
die reën beween swart verbrande aarde
jou kinders toegedraai in lap
lê netjies in ’n ry gepak
maar jy met die diep beroering in jou oë
vleuel steeds na bo

HOE VERNEDER HOE VERNIEL
JY BEHOU JOU ONGESKONDE SIEL

Jy vrou in lanfer gevou
kan jou nie meer teen jou kinders koester
hul warmte nie meer deel van jou
jou bloed moes in die kerkhof bly
alles is swart verbrand
geen diere in die kraal
geen oes op die land
als gestroop als kaal
nogtans glo jy ...

HOE VERNEDER HOE VERNIEL
JY BEHOU JOU ONGESKONDE SIEL

hap vir hap uit klip gekap
tog duiwe vlerk sag in jou oë
ek kyk op na jou
jou beeltenis hier regop en fier
hier waar jy staan
in die vrou se naam
Voortrekkervrou
wat vreesloos die toekoms in tuur

HOE VERNEDER HOE VERNIEL
JY BEHOU JOU ONGESKONDE SIEL

geen mens se haat
kon jou siel raak
bloedbevlek maar sneeuwit
als wat jy verloor bly in jou besit
jou geloof het oor berge gebaan
jy het die fakkel gedra
toe soldate swig voort gegaan
ek weet so seker as wat ek leef
uit roet en as het ’n feniks gesweef

HOE VERNEDER HOE VERNIEL
JY BEHOU JOU ONGESKONDE SIEL

jy laat my glo
dat gesaaides weer sal opkom
dat blomme weer sal blom
dat ou mense net kan wees
dat kinders weer kan speel en lag
sonder vrees
in hierdie land van doodslag
uit die brokstukke van die verlede
bou jou geloof binne my ’n nuwe hede

HOE VERNEDER HOE VERNIEL
DIE VROU BEHOU HAAR ONGESKONDE SIEL

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top