Vrouedag-skryfkompetisie: Erfgoed

  • 2

Wanneer my ma met haar blou kraalogies onseker na my kyk, amper soos ’n kind wat verdwaal het en nog nie die woorde ken om hulp te vra nie, klop my hart vinniger van vrees. Ek kan nie vir haar gee wat sy wil hê nie – helderheid van verstand en vastigheid onder haar voete.

Met haar mond nou effe ingeval, kan mens aan haar hoë wangbene en haar gladde vel sien dat sy op haar dae ’n mooi vrou was. Sy’t gedurende haar tagtigerjare ’n halwe meter gekrimp en haar skouers trek al hoe nouer; op 88 lyk sy klein en kwesbaar.

In die afgelope maande het haar voete ’n blou skynsel gekry en fyn rooi gebarste are pak om haar geswelde enkels saam, haar toonnaels steeds rooi geverf en haar hare vars geperm. Lipstick moet oral saamgaan, al vergeet sy meeste van die tyd om dit aan te sit. Sy neem nie meer deel aan gesprekke nie en bly besig met haar eie kop: die herhaling van dieselfde vraag verklik dat haar gedagtes nie uit die wegspringblokke kom nie. Op 88 bly sy trots en dit is juis dit wat sorg dat sy nie heeltemal wegglip in die verlede nie. Dis al wat oor is, en al wat ons erf – haar lewe van gister.

Haar gedagtes is vol van kleintyd op Die Lande, hul plaas net buite Vanwyksvlei. Haar pa wat baie gelag het, haar verknogtheid aan haar twee sussies en hoe sy by haar ma gaan inkruip het as die weerlig buite geslaan het.

Toe sy koors gehad het en snags geyl het, het haar susters van die anderkant gekom om haar te kom haal. “Nee,” het ek haar hoor sy sê, “ek wil nog bietjie in die tuin krap, die familie nooi vir tee en in die sonnetjie sit by die kinders.” Hulle is ongedane sake weer terug.

Die klein, hardekoejawel vroutjie is net ’n skadu van die jong meisie wat in 1950 in Kaapstad by die poskantoor kom werk het – ons joviale, kaalvoet, bruingebrande ma wat al wat ’n nuwerwetse ding uitprobeer het: selfs in haar laat sewentigs het sy die wonder van die internet ondersoek en alles ge-Google.

Ons drie kinders is effe onkant gevang, ons het gedog die siekte sou haar dood beteken.

 “Sy moet maar sê wat sy nodig het,” sê my broer, ewe prakties.

“Sy’t niks nodig nie,” sê my suster, sy wil net haar lewe terughê.

“Sy wag vir Pappa,” sê ek na ’n rukkie.

My broer kyk my verras aan, “Sy het vir veertig jaar elke dag vir hom gewag. Sy weet mos hy gaan half wees.” (Half dronk en half laat).

“Mag van die gewoonte,” merk my suster droogweg op.

“Miskien was dit ware liefde,” sê ek, “hulle het net nie geweet hoe om dit te leef nie”. “Ja,” sê my broer met dáái uitdrukking op sy gesig, “seker omdat hulle nie Google gehad het nie.”

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Miggie Krauspe

    'n Pragtige eerbewys aan 'n moeder wat duidelik baie bemin en geliefd is. Dis pragtig geskryf.

  • Wonderlike storie van hoe die ouderdom mens bekruip en jou ontneem van jou Vryheid en jou onafhanklikheid. Ek ken die skryfster en die vrou oor wie sy met soveel deernis skryf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top