Ek staan laat-oggend voor jou hek.
Ek sien die kombuisgordyntjie lig.
Kordaat kom blaffend uitgehardloop,
en jy, flink, maar kromrug,
agterna.
Die reuk van warm melktert versier die lug.
Daar is nie baie foto’s teen die muur nie,
want, selfs al verlang jy somtyds terug,
jy leef nie meer in daardie uur nie.
Jy leef nóú.
Jy gesels met my asof ek ’n grootmens is,
al is ek nog ’n kind, nie eers vyftien nie.
Jy vertel vir my van die lewe, uit jou oogpunt,
dinge wat my kinderhart nie kon insien nie.
Maar ek begryp nou.
Ek wens ek kon jou my vriendin noem
eerder as my “geleende ouma.”
Ek wens ek kon vir jou al die vrae vra
wat my nou eers, jare later pla.
Maar ek kan nie.
Ek wens ek kon my man aan jou voorstel,
en vir hom sê dat dit is hoe ek wil wees.
Ek wens ek kan vir jou, nog een Saterdagoggend,
hierdie gedig in die sonkamer lees.
Ek sal nog.



Kommentaar
Pragtig ❤