(Na ’n brief van JRR Tolkien aan sy seun, Christopher)
Ek wonder hoe dit moes wees vir jou, terwyl hy lang ure by die universiteit spandeer het. Jy, wat jou onsterflikheid opgeoffer het. Jy het vier kinders grootgemaak. Dit was die 20’s, die 30’s, tussen oorloë. Dit kon nie maklik gewees het nie. Wat was jou opinie oor oorlog? Of politiek?
Wat van laatnag? Die nag was sy ryk. Die ryk waar hy sy verbeelding kon offer aan die gode van sy wêreld: die Ainur, selfs Morgoth. Maar: die nag was jóú ryk ook. Het jy verheug die toevlug van jou stil kamer opgesoek, sodat jy jou kon verlustig in die heilige kalmte na kosmaak, skoonmaak en self-ontkenning? Was daar tyd om ’n paar suiwer note op die ongebruikte klavier te speel?
Die wêreld is tog geskape uit musiek: die tema van alle dinge bepaal deur daardie eerste primitiewe noot van die kosmos.
Miskien het jy jou kop neergelê en ’n gebed geoffer, eerstens vir jou kinders, vir hom en toe laastens vir jouself. Jy was Anglikaans, hy Katoliek, maar selfs jou religie het jy geoffer by die altaar van die huwelik. Dalk toe jy finaal insluimer, was jou gesig vreedsaam en ryn, soos die Maagd, uitgeëts op marmer, terwyl die maan weerspieël in jou hare: ’n donker en geheime rivier wat oor jou kussing spoel.
Jy was alleen. Jy het hom nog uit die kamer geskop. Hy het te laat gewerk. Dit het jou sekerlik gepla.
Later, toe jy gedroom het, was dit 1917? Daar was ’n Woud in Roos. Hy het pas teruggekom van die oorlog en julle het daar gaan stap. Jy het vir hom gedans in ’n see van wildegerwelblomme wat wit en fyn oopmaak soos sambrele, jonk en onbevlek.
Lùthien het haar onsterflikheid opgeoffer vir die sterflike mens Beren, sodat sy een leeftyd saam met hom kon spandeer, maar het jy toe besef dat jou gees vir altyd sou voortleef in haar, en daarna, die ander?
Jy is verhewe in daardie oomblik, onsterflik, tot ’n kind van die Illùvatar.
Jou siel rus nou in die buitekringe van ons wêreld, saam met hom wie jy jou sielmaat kon noem. Jou liggaam is begrawe onder syne, in dieselfde graf. Op die grafsteen staan: “Edith Mary Tolkien” en daaronder: “Lùthien”.



Kommentaar
hierdie is 'n gedig.
'n storie!
'n hoendervleis-lees...
Dankie!