Vrouedag-skryfkompetisie: Die vrou met waagmoed

  • 0

"Kom ons eet eers voor ek die foto wys … " sê ek, terwyl my hart bons en my handpalms sweet. My ma … hulle ma … wie se ma is dit regtig? Praat ons ooit van dieselfde vrou? Onthou ons die regte vrou en ma?

Anne het gebel en gesê sy hoor ons ma is dieselfde mens wat haar gesin jare gelede verlaat en nooit weer teruggekeer het nie. "Ons" afgestorwe broer het kort voor sy dood vir hulle die nuus gebring. Hulle het nog broers en ’n suster uit hul ma se tweede huwelik.

Tussendeur ongemaklike stiltes probeer ons op "ons" ma se spore terugstap, toe sy eens op ’n tyd ’n baie moeilike besluit in haar lewe moes maak. Sy was ’n mooi vrou. Voortreflik in haar huis, netjies, alewig besig om die kinders te dissiplineer. Hul pa het op die skepe gewerk. So elke dan en wan huis toe gekom.

Klink my "ons" ma was lief vir sosiale dinge, mooi aantrek, lekker etes kook – ’n regte gesins- en familiemens, vrou, ma. Bekend in haar gemeenskapkringe.

Dit was skielik, sonder enige aankondiging, dat hulle die oggend wakker geword het en hul ma was weg … Skoonveld weg – geen briefie, verduideliking of leidraad nie. Net skoonveld verdwyn. So moes die twee susters en hul twee tienerbroers hul adolessensiejare betree. Pa konstant aan die werk, hom net nou en dan gesien wanneer hy vanaf sy skeepswerk teruggekom het en ’n ma wat net verdwyn het. Gelukkig het hul ma hul jongste bababoetie saam met haar geneem. God weet waarheen. En, dank Vader, hulle was veilig by familielede.

Bababoetie en ma het ’n nomadiese bestaan gevoer en uiteindelik ’n nuwe gesin gebou met my pa en my twee broers. Volgens my misplaaste begrip het sy rondom 40-jarige ouderdom skielik gesterf. Volgens my nuutgevonde susters was sy rondom 70 met haar sterfte. My fobie van ook sterf op 40 sou toe nie waar word nie, want selfs haar ouderdom was  ’n versinsel.

Die hordes vrae waardeur ons drie "susters" elkeen binne ons eie gedagtes geworstel, herkou, herdink, probeer uitpluis en probeer sin maak het met ons ontmoeting, was uitputtend, ontstellend, verwarrend, ontnugterend, om die minste te sê! Want hoe in God's naam kry ’n ma dit reg om haar kroos, waaraan sy swaar geboorte gegee het, net so te los en net te verdwyn? Hoe kry ’n vrou dit reg om vir jare met ’n tweede man getroud te wees, ’n gesin te hê en niks van haar verlede te laat val nie?

Hoe? Flip weet, hóé?

Na vele diepdelwende gesprekke, en in haar spore en skoene rondwandel, was dit duidelik dat haar eerste huwelik se emosionele mishandeling en verwaarlosing sy tol geëis het op "ons" ma. Die slotsom was dat sy eintlik ’n dapper, merkwaardige vrou was. Dat sy te midde van hartverskeurende moeilike besluite weggestap het van seer, kwaad, bitterheid en ’n nuwe toekoms vir haar gaan soek het.

Daarom sal sy altyd wees: die vrou met waagmoed.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top