Priscilla Booysen

Priscilla Booysen

Priscilla is in 1977 in ’n klein dorpie buite Stellenbosch gebore. Haar ma is oorlede toe sy tien jaar oud was en tussen rondtrek met haar pa en by familielede woon, het sy ’n liefde vir lees ontwikkel. Sy was by verskillende laerskole en het in 1995 gematrikuleer. Sy het deeltydse werke en ’n kort Educare-kursus gedoen en vir ongeveer twee jaar by ’n Suid-Afrikaanse gesin gewerk. Hulle het haar na twee jaar met ’n beurs beloon waarmee sy maatskaplike werk aan Hugenote Kollege in Wellington studeer het. Sy het na haar studies in Italië au pair-werk gaan doen en daarna vir ongeveer drie jaar as maatskaplike werker in Suid-Afrika gepraktiseer, waar sy goeie blootstelling en ervaring opgedoen het ten opsigte van plattelandse en stedelike gemeenskappe se sosiale kwessies. Sy het daarna vir agt jaar by ’n hoër opleidingsinstansie in studente-ondersteuningsdienste gewerk en was onder meer ook in ’n dameskoshuis die inwonende hoof. Sy het haar honneursgraad in maatskaplike werk opgevolg met ’n meestersgraad in opvoedingbeleidstudies. Sy werk vir die afgelope sewe jaar met opvoedkundige ontwikkelingsprojekte vir ’n familietrust en is tans besig met ’n doktorsgraadkursus in opvoeding. Sy het nog nooit geskryf of enigiets gepubliseer nie, maar haar liefde vir lees, persoonlike ervaringe en die verskillende rolle waarin sy haarself bevind, noop haar om haar gedagtes en stories op papier te sit.

Vrouedag-skryfkompetisie: Die vrou met waagmoed

Priscilla Booysen Skryfkompetisies 2019-08-13

LitNet se Vrouedag-kompetisie – Vonkfiksie deur Priscilla Booysen: "Dit was skielik, sonder enige aankondiging, dat hulle die oggend wakker geword het en hul ma was weg … Skoonveld weg – geen briefie, verduideliking of leidraad nie. Net skoonveld verdwyn."

Top