Vrouedag-skryfkompetisie: Die vlamtoets

  • 0

’n  Vergeelde stringetjie pêrels in ’n verbleikte rooi fluweelsakkie
is al wat ek nog van Ma oor het
 saam met grepe herinneringe:
Ma met die voorskoot aan en die uitgetrapte plaasskoene,
krom gebuig voor die naaimasjien,
natgesweet voor die koolstoof en die konfytpotte,
buite in die son by die stellasies vol geelperskes.
Ma, met die sagte buin oë.

’n Pêrel word nie in een dag gevorm nie,
ook nie onder perfekte omstandighede nie.
Lang jare van diensbaarheid  het haar karakter gebrei.
Deur elke dag getrou na almal se belange om te sien 
geduldig te dra aan elkeen se las  
haarself alles te ontsê.

Soos ’n oester  het sy tydsaam en geduldig lagie vir lagie kosbare kristalle opgebou
te midde van die ongemak van haar omstandighede.
Wie weet, dalk het die Groot Visser aan die binnekant
van maar net nog ’n  kleurlose, vaal mossel
Onverwags ’n  pêrel van besondere skoonheid blootgelê.
Dalk was dit ’n  glansende silwerblou, ronde pêrel?
Of dalk ’n baie rare, reënboogkleurige druppelpêrel?
... ’n  pêrel wat bo alles die vlamtoets deurstaan het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top