Petro is 42 jaar baie gelukkig getroud, waaruit ’n mens kan aflei dat sy ’n wonderlike man het. Saam met hul twee skoonkinders het hulle nou vier pragtige kinders en drie lieflike kleindogters wat die vreugde van hul harte is. Hulle woon op ’n plaas naby Volksrust maar boer nie self nie. Petro het onderwys studeer maar min skoolgehou. Sy is huisvrou en ma en ondersteun haar man in wat hulle saam aanpak. Sy is passievol oor ’n gesonde leefstyl, groentetuin maak, die plaaslewe, kosmaak, stap, fietsry, die natuur of enige van die ander klein vreugdes wat elke dag oor haar pad kom. Sy besoek graag ou mense in die ouetehuis waaruit sy ’n magdom vreugde put. "As jy lief is vir lees en skryf en boeke, dan is jy maar altyd aan die skryf," sê sy. Oor die jare het sy ’n roman,’n vervolgverhaal en ’n paar kortverhale in tydskrifte gepubliseer. Sy het ook kinderverhale en sketse vir die radio en twee reekse vir Radio Kansel geskryf. Tans skryf sy sketse op ’n ongereelde basis vir die plaaslike koerant.