Vrouedag-skryfkompetisie: Die nagwaak

  • 0

“Sy is nou in ʼn diep slaap,” sê die nagsuster.

“Het sy niks gesê nie?” vra ek.

“Nee, maar net voor jy gekom het, het sy na iemand geroep. Die naam het ek nou vergeet.”

Ek streel oor haar voorkop. My ma. Onstuitbaar in haar lewensdrif en liefde. Tot die val, laatmiddag.

Net gister nog het ons deur haar album geblaai. Die dogtertjie, die jongmeisie, die bruid,, die vrou, die moeder, die ouma, die oumagrootjie. Ons koninginmoeder wat altyd net een taal geken het: om almal rondom haar met kos en klere te omvou.

“Kyk,” sê my ma, “hier sit ons twee op die oewer van die Vaalrivier.”

ʼn Jong vrou met ʼn helderrooi blom in haar lang swart hare. Langs haar ʼn klein dogtertjie met ʼn fluweelrooi tjalie.

By Villiers loop die Vaalrivier mooi breed, hang die wilgers in die water. Oor die enkelbrug – net een voertuig op ʼn slag kon die rivier oorsteek – het ons na my oupa se plaas gery. Wolwefontein, my ma se grootwordwêreld. Die ouerhuis.

ʼn Paar jaar gelede was ek en sy weer daar. Want huistoe wou sy altyd weer gaan. Ons het Villiers toe gery, die rivier oorgesteek. Die plaas was verlate en verwaarloos, die huis toegegroei, onbereikbaar. Maar die hekpilare het nog gestaan, die plek waar Ouma en Oupa ons altyd ingewag het.

“Mammie!” roep sy sag, “ek’s dors!”

Ek maak haar lippe versigtig nat, streel oor haar voorkop en fluister: “Ek’s hier, Mamma!”

Sy maak haar oë oop. “Jy moenie weggaan nie, sussie,” sê sy. “Ek gaan huistoe.”

“Ek bly by Mamma,” antwoord ek.

Net die nagliggies brand in die saal. Die nagsusters beweeg saggies tussen die pasiënte. Soos engele.

Soos my ma oor ons as kinders gewaak het.

“Toe jy gebore is, my kind,” het sy altyd vir my vertel, “was ek en jou pa so verskriklik bly. Maar bekommerd. Jy het dan so stil gelê. Die vroedvrou het gesê jy slaap net. Soms het ons ʼn kers voor jou mondjie gehou. Om seker te maak jy glip nie stilletjies weg.”

Dit word koud. Die nagsuster vou die komberse stywer om my ma. Maar kort-kort skop sy haar oop.

“Los my, Herman roep my!”

“Dis die naam,” sê die nagsuster.

“My pa,” sê ek. “Maar hy is al sestien jaar gelede oorlede.”

“Dan kan dit nie meer lank duur nie. Laat kom haar dominee.”

Hy kom. In ʼn sagte stem lees hy voor: “Na waters waar rus is …”

Terwyl hy lees, sluimer sy in. Ek hou haar hand in myne. Stilletjies, baie stilletjies gaan sy weg. Huistoe. Die nagwaak is verby.

“Julle moet my nie vergeet nie,” het sy baie keer gesê.

“Ek sal jou altyd onthou, liefste Mamma,” fluister ek en vou die tjalie stywer om my. Die fluweelrooi tjalie wat sy aangehad het toe hulle haar hospitaal toe gebring het.

Ek loop by die hospitaal uit. Die nagwag met die wyse oë kyk op.

“Dit was ʼn nag vol sterre,” sê hy.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top