Vrouedag-skryfkompetisie: Bloumaan

  • 1

Boervrou, kyk, ek steek vir jou ’n kers aan
om te sê ek sien jou raak

Ek sien jou wanneer jy donkernag geluidloos ween
vir jou man wat op geknelde knieë soos Dawid
in hierdie Goliatdroogte soebat vir genadereën
smagtend na onweerswolke om die hemel te behang
maar die Melkweg genadeloos jou oë bly brand

Ek sien jou boervrou wanneer jy verby leë damme ry
wat glasoog smekend na die somerson staar
jy verby verbrande vlaktes vertoog vir genadewater
en anderpad kyk wanneer die ingevalle ribbekaste
van stoetvee wat soos wintermuskiete kwyn
jou met uitgeholde oë agterna staar
wyl jou hart se skerwe jou binnemens stukkend kerf

Ek sien jou hand vertroostend op sy hangskouers rus
na hy die sneller op nog ’n kalf moes trek
wat ’n verbond gesluit het met die droogte
en jy wonder oor die sperdatum van hoop
as hy die bord wat jy voor hom neersit wegstoot
want hoe kan hy eet wyl sy kudde krepeer

Ek sien jou boervrou as jy soos Habakuk prewel
“nogtans sal ek jubel Here” wanneer jy verslae 
bebloede hanslammers oor ’n kombuisdeur aanvat
na veediewe weereens jou ooie keelaf sny
trane verdrink jou woorde
soos jy veg teen harde kolle wat in jou oë wil agterbly

Ek sien jou boervrou wanneer jy gewapen en alleen
vir ’n veldbrand wag om sy vuiste te laat sak
en die werfhonde se onrustige geblaf
die oorverdowende stiltes van die ounag splyt
wyl vrees jou hart se drumpel kom deurtrap
want tevore se bloedreën is nog lank nie vergete

Ek sien jou raak wanneer jou bankkaart decline
en jy verlate, verlore staan met brood in jou hand
want die skuld van laas jaar se oes 
lê onbedagsaam ’n hele bankstaat vol
omdat die uitkomsreën toe nooit gekom het nie
en hier is bloumaan al weer maar die reën bly makeer

Ek sien jou boervrou wanneer jy soos Rut 
saam in onmag knarsetand oor onbewolkte horisonne
en selfs as wanhoop in jou siel kom kinders baar
jy met ’n glimlag wat lieg, sê daar is altyd hoop
want jy weet as jou oë nie meer kan sien nie
sal jou geloof moet kyk

Boervrou, mag die verkaalde vlaktes jou vrese versmoor
en die droogte sy houvas op jou binnemens verloor
mag die tolboswinde jou wanhoop verwaai
en hemelwater om jou handevol lentebloeisels saai …

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top