Vrouedag-skryfkompetisie: Anja, my inspirasie

  • 1

Daar is soveel bekende onbekendes wat my inspireer, maar ek wil graag my eie dogter uitsonder. Dié bondeltjie energie wat op 2 April 1982 op die verwagte datum gebore is om skoonma se tweede man se geterg oor April fools in die kiem te smoor. Sedertdien was sy nog nooit ’n April fool nie.

As klein dogtertjie het sy my geïnspireer om tutu’s te maak, wit, swart en rooi. Omdat sy soos ’n prinsessie kon ballet. Hoewel sy klein en fyn is, moet hierdie rabbedoe van my nie onderskat word nie. Sy pak alles met oorgawe aan, nie noodwendig goed vir ’n moederhart nie. Ek het skaars gemaan dat bergfiets gevaarlik is teen die spoed wat sy in berge rondjaag, toe besluit sy dat haar balletbeentjies eintlik gemaak is om berge uit te hardloop en draf sy dikwels onder die eerste vrouens oor die wenstreep. My hart wil raas want sy oefen alleen in die berge, maar wanneer ek die bloedrooi gesiggie sien nadat sy ’n wedloop voltooi het, weet ek dat my doel is om haar veiligheid aan die Here op te dra. Sy is in haar element. Alhoewel haar entoesiasme my al geïnspireer het om ’n bergfiets te koop, is ek immuun teen die hardloopgogga. Ek is pê na ’n 5 km Parkrun wat ek teen my eie pas voltooi.

Anja het ons gesin met drie pragtige seuntjies aangevul, elkeen ’n rabbedoe in sy eie reg. Ek het uitgesien om tutu’s te maak, maar sy is volgens haarsself ’n seuntjie-mamma. Dogtertjies is drama. Ek het wel tussen graad 9 en 11 gesukkel om te verstaan waarom ek haar klankbord moes wees, dit het aan ons verhouding getorring. Snaaks genoeg onthou sy dit meer as ek, want ek het na matriek my oulike dollatjie teruggekry. Ek moet egter met Anja saamstem, sy is ’n seuntjie-mamma. Sy bou saam met die kleinseuns modderdamme, klim saam boom en lag as hulle vuil is. Soms dink ek dat goed wat hulle doen te gevaarlik is, sy weet egter wanneer om remme aan te draai en wanneer om uit te daag.

Ek sien my dollatjie selde in rokkies en polvye, al laat sy die koppe draai die dag wanneer sy dit doen. Sy trek prakties aan, kort- of langbroeke en plat nommer 4-skoentjies. Wanneer ek saamkuier verstaan ek waarom, want ek verruil my hoë polvye ook gou-gou vir kaalvoete. Om gereed vir aksie te wees.

Hierdie dogter van my het ’n honneurs in aktuariële wetenskap, maar sy het die beroepslewe vaarwel toegeroep toe ons eerste kleinkind gebore is. Tans steek sy haar voet in die korporatiewe deur, op haar voorwaarde om smiddae te wees waar haar rammetjies is. Tussendeur staan sy haar plek in die gemeenskap vol: Voortrekkeroffisier, hoofmamma van haar seunskinders se klassies, vriendin en meelewende lid van ons gesin. Waar sy tyd kry, weet ek nie.

Ek weet net dat sy ’n inspirasie vir my en haar tydgenote is. Stilsit kon sy nog nooit met oorgawe regkry nie!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top