Net vanoggend nog, toe gebeur dit. ’n Modepop ry by my verby in haar Duitse sportmotor op die hoofweg na Durban. In die verbygaan sien ek hoe sy oogskadu aansit terwyl sy in die truspieëltjie kyk. Skaars by my verby, en sy swaai beheerloos gevaarlik voor my in. Ek skrik so groot, my skeermes glip uit my hand, net toe ek my snor bykom en val binne in die beker koffie wat tussen my bene vasgeknyp is. Warm koffie verbrand Koos en die tweeling so erg dat ek die toebroodjie in my linkerhand los en gryp na waar die pyn die ergste is. My twee kniekoppe, waarmee ek die motor in die pad hou, pluk so erg aan die stuurwiel dat ek in die baan langsaan beland – reg voor ’n motorfiets wat gelukkig kon uitswaai. Al skellende skuif die gedoente by my verby, terwyl die eienaar daarvan my met haar lipstiffie gooi. Weer eens skrik ek my boeglam dat die selfoon, wat ek tussen my oor en my skouer vasknyp, by die venster uitspat dat jy net stukkies sien spat soos dit op die teerpad beland.
Vroumense moet summier belet word om enigiets op die pad te bestuur, want hulle stel net belang in hulle voorkoms, pleks van hulle oë op die pad te hou. En kyk net, die skade! Hier sit ek nou erg verbrand, sonder selfoon, ’n konfoeste skeermes, en woedend terwyl ek al ’n halfuur wag op die Sunrise-brekfis wat ek bestel het.
Groete,
Angus


Kommentaar
Angus jou bek gaan maak dat jou gat slae gaan kry. Ek sal nie eers praat oor wat ek al gesien het wat in motors gebeur nie. Ek het mos 'n hele paar jare gelede trok bestuur om dit op my "bucket list" af te kan merk. Menigte kere het my bek van verbasing soos 'n waenhuisdeur oop gehang. Partykeer geskok ook.
Jy het vergeet van die GPS wat jy met een oog dopgehou het en toe met die grypaksie van sy vassuigarmpie teen die binnekant van jou voorruit afgestamp het en toe in jou skoene geval het wat jy uitgetrek het omdat jou voete warm gekry het.
Briljant!
Ek doen niks van daai dinge wat my mede-padgebruikers in gevaar stel nie. Ek is te besig om nuwe lyn op my katrol te sit.
Stywe lyne
Duitswester